Nuut?

Hierdie is so 'n vinnige opsomming van wat om te doen as jy begin met Tuisonderwys.

Regsverteenwoordiging

Eerste en belangrikste ding sluit aan by die Pestalozzi trust. Die trust is  regsverteenwoordiging vir ons wat Tuisonderwys. ’n Aansoekvorm kan van hul webblad afgelaai word. Dit is krities belangrik dat jy by hulle aansluit.

Departement van Onderwys

 Of jy by die Dept. wil registreer is jou eie besluit, lees hierdie artikel geskryf deur Mnr Leendert van Oostrum van die Pestalozzi trust.
Om te registreer is 'n baie persoonlike besluit en slegs jul as ouers kan daai besluit neem of dit vir jul gaan werk of nie.

 De-schooling 

Indien jou kinders uit ’n hoofstroom skool geneem word. Is dit belangrik om die kind(ers) eers ’n kans te gee om die skoolsisteem uit hul te kry. Dit beteken dat jou kind(ers) vir ’n tyd lank nie formele akademiese werk gaan doen nie. Lees gerus hierdie artikel vir volledige inligting.

Maniere van Tuisonderwys

Daar is verskillende maniere van tuisonderwys. Party mense het baie struktuur nodig en volg formele kurrikulum, ander koop boeke aan vir verskillende vakke en ander doen wat ons noem unschool of selfskool. Hulle leer deur meer te ontdek ens.

Hierdie is net my opinie: Jul wil weg beweeg van die hele skool by die huis konsep. Die kinders is mos nou nie meer in die skool nie. Hul moet hul lering geniet. Kinders leer ook baie meer deur dinge met hulle hande te bou en te voel ens. Ons as ouers sukkel om uit die boks te dink. Ons dink nog ons moet hulle skool die manier wat ons geskool was.

 Kurrikulum verskaffers

Opsies as jy formeel wil werk en ’n kurrikulum wil aankoop.

  •  Nukleus Gr R tot Gr 12 en skryf die NSS (Nasionale Senior Sertifikaat) alle boeke word verskaf. Skool jaar word opgedeel in 4 modules per jaar. (boeke kan dus per module aangekoop word dus gee dit die ouer die geleentheid om te bepaal of die boeke na hul wens is of nie) Boeke kan aangekoop word met assessering (eksamens) of sonder. (fantastiese diens)         
  • Breinlyn Gr R tot Gr 12. Skryf die IEB eksamen (Independent Examinations Board) Gr R tot Gr 12. Boeke kan aangekoop word met of sonder assessering.         
  • Impak Gr R tot Gr 12. Skryf die NSS eksamen. Hul bied die opsie vir afbetaling. Alle boeke word verskaf en kan geneem word met of sonder assessering.        
  • Moria Tuisskool  Gr R – Gr 12. Onseker of dit geneem kan word met of sonder assessering.
  • Le-Amen Gr R – Gr 12. Skryf IEB eksamen. Hul is geregistreer by die Departement van Onderwys. (uitreiking van rapporte en verslae neem baie lank)         
  • Kenweb Gr R – Gr 9. Eksamen vraestelle kan aangekoop word. Handboeke word aangekoop in PDF formaat. Neem kennis die handboeke is tipiese skool handboeke wat 15+ jaar terug op skool gebruik was. Kwaliteit van die skandering is nie goed nie. Boeke is spotgoedkoop. Saam met die handboeke kan ’n rekenaarprogram aangekoop word wat deel uitmaak van die daaglikse werk. Die aankoop van die rekenaarprogram is nie ’n vereiste.         
  • Afstandleer Plus Gr 9 – Gr 12. Skryf die NSS eksamen. Alle werk word op rekenaar gedoen. Internet toegang is ’n vereiste.

Soos jy sal opmerk kan meeste boeke aangekoop word met of sonder assessering. Indien jul besluit op geen assessering beteken dit dat daar geen eksamens en rapporte uitgereik sal word nie.

Indien jy beoog dat jou kind(ers) ’n Suid-Afrikaanse matriek skryf, gaan dit beteken jou kind moet teen Gr 9/10 by ’n verskaffer ingeskryf wees. Hierdie kan moontlik in die toekoms verander as die volwasse matriek in werking is. (kan dit nie tans bevestig)

Ek wil dit net duidelik stel. Dit beteken nie omdat 'n verskaffer baie goeie bemarking het en op elke soekblad verskyn dat hul tog werklik goed is nie. Baie kan getuig van groot name met vrot diens. Dit is belangrik vir elke ouer om behoorlike navorsing te doen. Elke ouer se ondervinding is anders.

Matriek opsies

Matriek is daar verskillende opsies. (mees bekendste opsies)
  •  NSS Nasionale Senior Sertifikaat        
  • Cambridge (Britse kwalifikasie) kan net in Engels geskryf word. (Kind moet AS skryf om te slaag en word aanvaar by Universiteite)       
  • GED en SAT (Amerikaanse Kwalifikasie) kan net in Engels geskryf word.(Kind werk deur ou eksamens in voorbereiding vir die GED eksamen (kind moet 16 wees) en vir die SAT word daar deur 'n boek gewerk. (belangrik dat kind goeie taal skryf vermoë het vir die SAT)) (Sien GED bladsy heelbo vir 'n skakel na meer informasie.)

Ambag

Sol-Tech bied formele opleiding tans in die volgende ambagte aan: Elektrisiën; Meulmaker; Dieselwerktuigkundige; Passer en draaier; Gereedskap- en setmaatmaker. Vereistes is dat die kind Graad 9 moes geslaag het. ’n Toelatings eksamen word ook geskryf.

Alternatiewe opleiding

Aanlyn opleiding begin tans vrylik beskikbaar raak. Daar is ’n verskeie universiteite en instansies wat opleiding gratis en teen fooi aanbied. Sommige bied dit aan as verryking om kennis te verbreed. Ander bied dit aan en verskaf sertifikate en krediet punte. Onder andere is daar Coursera, Alison en baie ander, google gerus.

Alternatiewe tuisonderwys opsies

Indien jy nie formeel wil inskryf by 'n verskaffer nie kan jy slegs die nodige boeke aankoop vir verskillende vakke. Daar is baie boekwinkels en uitgewers wat goeie akademiese boeke aanbied.

Aanlyn boekwinkels:
Graffitiboeke
Takealot
Loot

Galileo Boeke
En nog vele meer.

Uitgewers:
Daar is te veel om te noem. Kyk gerus by boekwinkels soos bv. Graffitiboeke onder die leer middels area vir ’n indikasie van wie bied wat aan. Dit is net ’n vertrekpunt.
Daar is baie van die Tuisonderwys ouers wat hul eie ding doen. Daarmee bedoel dat jy nog steeds die nodige vir tale en Wiskunde doen maar vir die ander byvakke bv. uit biografies lees, die biblioteek gebruik en daai bronne gebruik en lees.

Boeke uit die buiteland:
Baie Tuisonderwys ouers bestel hul boeke van buitelandse kurrikulum verskaffers. Loer gerus op kletsbladsye en forums rond wat daar alles is. Daar is eenvoudig net te veel om te noem. As is ons Afrikaans kan ons steeds van baie goeie Engelse boeke gebruik maak.

 Die ander sy van Tuisonderwys

Die belangrikste aspek van Tuisonderwys is om nie te fokus op matriek en soveel as moontlike kennis in jou kind se kop te kry nie. Geen mens kan elk geval alles leer nie. Ons moet fokus om vir ons kinders goeie Christelike karakter te leer. Hoe om goed te wees vir ander, hoe om hulpvaardig te wees, om liefde te toon ens. Ons kan nie die Tuisonderwys pad stap sonder God se hulp nie.    Daar gaan dae wees wat jy baie moedeloos gaan wees, baie deurmekaar gaan wees. Dit is normaal. Bly kalm en geniet dit. As julle wil af vat, vat af, as julle wil iewers wil gaan, gaan doen dit. Moet nie julself mal maak met ’n klokkie en tyd ens nie. Lees bietjie hierdie artikel wat ek op my Engelse blog geskryf het.(die blog is nog daar vir kennis maar ek maak glad nie meer nuwe plasings nie)

Tuisonderwys is nie ’n besluit wat op nege en negentig gemaak kan word vir sommer net nie. Dit is ’n voltydse verpligting. Tuisonderwys is nie ’n manier van hoe jy jou kinders leer nie. Dit is ’n leefstyl. Voor jy enigsins begin met Tuisonderwys, maak seker jy het genoeg navorsing gedoen en verstaan dit van jou gaan behels.
Indien jy dit sien as ’n tydelike oplossing tot een of ander skool probleem, stel ek nou voor dat jul weer daaroor dink.

Klop hier aan vir ekstra raad:

  •  Beithasefer: Lindi Malan is die ideale persoon om mee te gesels. Sy kan boeke voorstel en help met enige raad as 'n mens nie weet watter rigting ens.         
  • Dynamis Learning: Martie du Plessis wys jou hoe om te Tuisonderwys en gee baie nuttige raad. Sy bied gereeld seminare aan. Daar is ook DVD's op haar webblad wat jy kan aankoop.        
  • Vereeniging vir Tuisonderwys. Baie nuttige skakels, advies en artikels.         
  • Tuisonderwys yahoo forum.

Ek weet dit is alles baie oorweldigend, daar is so baie goed daar buite.

Belangrik is jy moet net kop hou. Moet nie rond skuif tussen goed nie. Kies iets en probeer dit maak werk. Pasop vir te veel goed aankoop, ons druk die kinders dood met al die werk.    

Laaste gedagte oor maats

Daar is verskeie groepe wat weekliks bymekaar kom. Probeer 'n groep vind en sluit aan by hulle. Kinders kry dan geleentheid om saam te speel, uitstappies word gereël ens. Kinders maak ook natuurlik maats by die plekke waar hulle sport ens doen.   

Dit is so alles in 'n neutedop.

Indien jy enige verdere vrae het, stuur gerus vir my 'n e-pos moolmanmaryna@gmail.com

Geniet dit en maak die beste van elke dag. 

Groete

Maryna

1 comments:

mel said...

can i have your email PLEASE
THANK YOU

Post a Comment