Tuesday 7 February 2017

Menslike Wonder - Infografika


Friday 3 February 2017

15 Minuut Afrikaans

15 Minuut Afrikaans is 'n wonderlike Afrikaanse Taalprogram wat aan die einde van 2016 deur bekroonde skrywer en Tuisonderwys moeder Marisa Haasbroek geloods is.


15 Minuut Afrikaans is presies net wat dit sê. Dit neem jou slegs 15 minute elke dag om taalwerk te oefen deur 'n storieboek stukkie vir stukkie te ontleed. Die program bestaan uit 'n Onderwysergids en 'n Studentegids. Alles wat jy benodig word saamgevat in die twee boeke. Ek stel egter voor dat jul 'n HAT of HAT Afrikaanse sakwoordeboek aanskaf, indien jul nog nie een het nie. 'n Lyntjieboek moet ook aangeskaf word.

Daar is ook kaartjies wat jy kan uitdruk wat die Woordsoorte opsom vir maklike gebruik en om na terug te verwys. 

Die program bestaan uit 30 lesse (weke). Genoeg om jou die hele jaar besig te hou. Elke les/week word in dae opgedeel. Daar is dus 5 'lesse/dae' binne 'n les/week.

Diegene wat al Fix It Grammar van die IEW (Institute of Excellence in Writing) gedoen het, sal presies die formaat van die program ken. Ek verduidelik kortliks vir diegene wat nie bekend is met dit nie.

Elke week word 'n nuwe woordsoort bekend gestel. Soos bv. week 1 leer die kinders van selfstandige naamwoorde. Elke dag gaan hulle dan 'n sin uit die boek Die klein kleremakertjie word koning gebruik. Uit die sin gaan hul leer om al die selfstandinge naamwoorde te merk. 'n Woordeskat woord word opgesoek en dit word agter in 'n lyntjieboek neergeskryf. Voor in daai boek sal die kinders die sin oorskryf, met al die nodige hoofletters, punte en die regte homofone ens. So word taalwerk happie vir happie bekend gestel en die kind raak vertroud met Afrikaanse taalwerk.



Ons gebruik die program al vir 'n paar weke en geniet dit vreeslik baie. Dit is eenvoudig uiteengesit en daar is niks wat die ouer verder nodig het om te doen behalwe om die nodige lesse uit te druk. Omdat die lesse vinnig gedoen kan word, word die nodige taalwerk geoefen en die kinders raak natuurlik nie verveeld met taal nie. Dit laat natuurlik ekstra ruimte in die dag om ander goed by te voeg en ook te doen.

Kyk gerus na die promo video oor 15 Minuut Afrikaans. Daar is ook 'n Facebook bladsy wat jy van kan gaan hou en skryf ook sommer in op die nuusbrief wat oulike brokkies en ook bonus blokraaisels bevat. 

Ek sal aanbeveel dat die program eers gebruik word na die kinders hul fondasie in Afrikaans vasgelê het. Dit kan egter op enige stadium gebruik word, self hoërskool.

Hierdie is tans een van die Afrikaanse programme wat ek hoogs aanbeveel.

Laaste nota: Omdat die program in elektronies formaat beskikbaar is, vra ek dat julle asseblief die kopiereg hierop sal respekteer dit nie sal aanstuur vir ander mense nie. Indien iemand belangstel laat hulle dit self aankoop. Daar is baie tyd in die samestelling van die program belê.

Lekker leer.

Groete

Maryna