Tuesday 26 January 2016

Sien die potensiaal!

Met die onlangse gesprek in die Tuisonderwys yahoo forum oor kinders wat reeds klaar is met hul skoling, het ek gedink om iets met julle te deel.


Julle weet ek het twee kinders, maar baie weet moontlik nie dat ek ook twee stiefseuns het. Hul is woonagtig by hul ma in Pretoria.

Albei het begin Tuisonderwys in laerskool (dink van graad 4/5 af). Hul ma het hul ingeskryf by 'n formele kurrikulum verskaffer en daar was hul vir baie jare. Die oudste een later in Graad 11 oorgegaan na 'n baie bekende kurrikulum verskaffer en die ander seun toe Graad 10. Dinge het so verloop dat daar oneindige probleme met die verskaffer was, opdragte konsuis nooit ontvang ens. Die oudste het op die einde van die dag Graad 12 gedruip. Hy was reeds baie ouer aangesien hy alreeds tevore ander grade nie geslaag het nie.

Hy het later in verlede jaar (2015) by 'n FET kollege ingeskryf en daar leer hy nou. (Na hy net nie geweet het wat om met sy lewe te doen nie.) (Hy is tans 21)

Die jonger seun (word binnekort 18) het heel jaar verlede jaar (2015) goed gevaar en toe skielik met eksamen alles gedruip, dus nie die jaar gemaak. Hy het egter ook hierdie jaar ingeskryf by dieselfde FET kollege deur wie sy broer leer.

Met die laaste kuier vorige kersfees, het albei seuns vir ons vertel hoe min hul van Tuisonderwys gehou het en dat hul dit NOOIT vir enige iemand sal aanbeveel nie.

Ek het amper van my stoel afgeval. Ek kon nie my ore glo nie. My twee jonger kinders is gek daaroor en floreer en leer ontsaglik baie.

Nou wat is my punt nou eintlik hier.

As jy nuut is, dink mooi voor jul net by 'n plek inskryf omdat dit 'n groot naam het met al die sogenaamde 'bells and whistles'. Dinge is nie altyd soos dit voorkom nie. Doen jou huiswerk. Daar is ander alternatiewe.

Of Tuisonderwys 'n sukses is of nie, het alles te doen met die ouer se betrokkenheid. As jy nie jou kind gaan help en hul leer en die proses saam hul deur gaan nie, gaan jou kind probleme ondervind. Hy/sy gaan dit moontlik haat en natuurlik sukkel.

Ek gesels nou die dag met 'n Tuisonderwys moeder wat vir my vertel sy het nie tyd om vir haar kind goed te doen nie. Ek kon nie help om te wonder  nou hoe op des aarde doen hul dan Tuisonderwys? Nou kyk, in alle eerlikheid, as jy wil Tuisonderwys maak jy eenvoudig tyd. Dit is 'n ongelooflike voorreg om dit te kan doen.

Sien jou kind se potensiaal raak en help hul om hul passie te ontwikkel, dit alleen gaan baie deure vir jou kind oopmaak.

Ek hoor graag van jul en jul opinies hieroor.

Groete

Maryna

Friday 22 January 2016

Knip en plak - Noag se ark vir kleuters

Indien jul besig is om van Noag en die Ark te leer, is hier 'n eenvoudige knip en plak projek wat kleuters kan doen.



Dit is oorspronklik saamgestel deur Ellen McHenry van die Basement Workshop. Ek het dit kortliks vertaal met toestemming.

Laai dit HIER af.


Groete

Maryna

Saturday 16 January 2016

Organiese Molekule Kaartspeletjie

Die Organiese Molekule Kaartspeletjie is oorspronklik saamgestel deur Ellen McHenry van die Basement Workshop. Met toestemming het ek dit in Afrikaans vertaal.




Doel van die speletjie
Om die konsep te versterk van hoe atome kombineer met koolstof om organiese molekules te maak, met spesiale aandag aan hoeveel verbindings elke tipe atoom kan maak (koolstof kan vier maak, waterstof net een, ens)

Ouderdoms groep
9 tot 14

Beskrywing van speletjie:
Individuele kaarte is gemerk met die afkortings vir die elemente C, H. O, Cl, N, Br. Elke kaart wys ook hoeveel bindings die atoom kan maak. Spelers sit hul kaarte uit met hul speelbeurt om 'n groot organiese molekule te vorm. So probeer hul om ontslae te raak van al die kaarte in hul hand.

Tyd benodig:
Sommige speletjies is vinnig verby, in net 5-10 minute. Maar die meeste speletjies neem langer, ongeveer 20 minute. Spelers moet aangemoedig word om die speletjie 'n paar keer te speel, die uitkoms van elke spel kan anders wees (soos die molekules gevorm).

Wat jy benodig:
Afskrifte van die patroon bladsye.

Laai die speletjie HIER af. 

Hierdie speletjie kan deel uitmaak as kinders besig is om Chemie en die Periodieke Tabel te leer.

Lekker speel.

Groete

Maryna

Friday 15 January 2016

Boekloer: Kominpas met Afrikaans

Kominpas met Afrikaans is werklik 'n handige boek.

Dit is saamgestel deur Onderwysers vir Graad 4 tot 7. Daar is 'n huistaal en tweedetaal uitgawe van die boek beskikbaar.

Hierdie is een van daai wat ek glo, 'n moet boek. Die boek dek 'n goeie basis van taalwerk. 

Dit dek onder taalleer; alfabetisering, woordeboekgebruik, klankleer, spelling, hoofletters en lettergrepe, woordvorming, woordsoorte, sinsleer, betekenisleer, woordeskat en afkortings.

Dit dek ook leesvaardigheid, letterkunde - prosa en poësie.

Onder is voorbeelde uit die boek.

Leestekens

Intensiewe vorme

Lydende en Bedrywende vorm
 Die leer van Afrikaanse taalwerk toegepas word uit leesstukke. Jy kan self van die Bybel gebruik maak. Ek stel voor om altyd eers een konsep op 'n slag bekend te stel en later aan te gaan sodra die kinders dit volkome verstaan. Maak seker hul hou aan hersien.

Hier is kaartjies wat ek gemaak het vir woordsoorte, opgesom in 'n neutedop.

Jy kan Kominpas aankoop deur Takelot.com.

Groete

Maryna

Wednesday 13 January 2016

Boekloer: Pharos AWS

Ek het onlangs die nuwe Pharos: Afrikaanse Woordelys en Spelreëls aangeskaf. (10de Omvattende herbewerkte uitgawe)


As jy 'n boek soek wat vir jou die Afrikaanse Spelreëls goed uiteensit is die AWS beslis die boek om te hê. Dit dek natuurlik nie net die spelreëls nie maar ook 'n goed saamgestelde woordelys, afkoringslys, buitelandse geografiese name met afleidings en nog meer.

Onder is 'n paar voorbeelde uit die boek van wat om te verwag.


Spelreëls
Spelreëls
Woordelys

Afkortings
Geografiese name
Wanneer jul die spelreëls en woordsoorte aan die kinders leer, pas dit op skryfstukke toe. Moet nie dat hul net tonne bladsye hier invul en daar invul nie. Gebruik 'n leesstuk en laat hul dit redigeer. Dus gaan jy die tyd moet neem om foute in 'n stuk te plaas sodat hul dit reg maak. Stel elke nuwe reël een vir een bekend en laat hul dit beoefen tot hul vertroud is daarmee voor jy na die volgende een gaan. Onthou om steeds die ou reëls wat reeds bekendgestel was te hersien. 

Ek sal met verloop van tyd kort opsommings kaartjies maak van die spelreëls soos wat ek vir die woordsoorte gemaak het.

Ek hoop die AWS sal van nut wees.

Groete

Maryna


Tuesday 12 January 2016

Is jou Geskiedenis lesse soos kits koffie?

Is jou Geskiedenis lesse soos 'n koppie suiwer kits koffie? Sonder melk, suiker en warm water?

Ek is seker julle dink ek is nou die klits kwyt. Dink daaraan... volg jy lesse uit 'n boek wat almal aan die slaap wil maak (suiwer kits koffie). Of is jul lesse vol avontuur en ontdekking, prettig en 'n lus vir meer (koffie,melk, suiker en warm water).

Kyk hierdie video van Diana Waring, dit sal ons twee keer laat dink.



Lekker leer...en werk aan daai opwinding ;)

Groete 

Maryna

Saturday 9 January 2016

Manlik en Vroulik blokraaisel

Ek het blokraaisels gemaak wat gebruik kan word om kinders se kennis te toets met manlike en vroulike geslagte.

Daar is twee blokraaisels en elkeen het 'n oplossing op 'n aparte bladsy.

Laai dit HIER af.

Laat weet my gerus wat julle daarvan dink. Lekker leer.

Groete

Maryna

Friday 8 January 2016

Taalwerk - woordsoorte

Woordsoorte is nie altyd die maklikste ding om te onthou as dit by taalwerk kom nie. 

Ek het kaartjies saamgestel wat elke woordsoort in 'n neutedop opsom.
Kaartjie voor
Die kaartjies kan gebruik word om kinders se geheue te verfris. Dit kan ook een vir een aan die kind gegee word soos die betrokke woordsoort behandel word. 

Kaartjie agter
Druk dit uit en lamineer dit, dit sal vir jare hou. Hou dit in 'n klein plastiekhouer of druk 'n gaatjie aan die kant deur en steek 'n sleutelringetjie daardeur.

Daar is twee opsies wat jy kan aflaai en uitdruk.
Opsie een:
Die kaartjies is twee op 'n bladsy, dit is die voorkant bo en die agterkant reg onder die betrokke woordsoort. Soos in die foto hieronder. Laai dit HIER af.
Opsie twee:
Die kaartjies is vier op 'n bladsy met die voorkant per bladsy en die opvolgende bladsy is die agterkant. Soos in die foto hieronder. Jy druk dit een vir een uit (woordsoort opskrif met afkorting) en draai die bladsy om, vir die verduideliking (die onderstebo bladsy). BAIE BELANGRIK - druk die bladsye in Letter formaat uit en nie A4 nie. (Ek het eers later agtergekom die formaat was verkeerd en wou nie weer alles skuif en maak pas, in Letter pas die agterkant presies in die blokkies voor in.Laai dit HIER af.
Ek vertrou julle sal nut kan vind met die.

Vir nog taal aflaai bronne (verskeie ouderdomme) sien:
Idioresies speletjie - Idiome bordspel
Sinonieme
Antonieme
Meervoud soldate
Boekloer: Maak spelling maklik
Klank vaslegging met flitskaarte


Groete

Maryna

Thursday 7 January 2016

Sinonieme

Om sinonieme vas te lê het ek 'n paar kaartjies gemaak wat gebruik kan word om snap mee te speel.


Verduidelik altyd eers wat nuwe woorde beteken voor julle met die woorde werk.
 
Laai die sinonieme snap kaarte hier af. Die pakkie bestaan uit 90 kaarte 

Druk dit so uit:
Druk die kaarte op karton uit. Lamineer die kaarte sodat dit nog baie lank netjies kan bly. 

Onder is 'n voorbeeld van een van die bladsye.
Voorbeeld van die sinoniem kaarte

Die kaarte kan natuurlik ook gebruik word as flitskaarte en spelling vaslegging waar nodig.


Nog idees hoe om die kaarte te gebruik:

Klop die klok (woordpas) speletjie:
Plak 'n paar van die woorde op 'n muur of witbord vas. Sit die ander op 'n tafel met al die woorde na onder (sit eers agterop elke woord 'n stukkie wondergom vas). Neem 'n stophorlosie en laat jou kind dan so vinnig as moontlik die regte sinonieme by sy regte maat sit. Julle kan elke ander dag die oefening doen. As die kind sy eie rekord gebreek het gee vir hom/haar 'n prys. Broers en susters kan dit saam doen, eerste een met meeste korrekte plasings wen.

Geheue speletjie:
Sit die woorde met die woord kante na onder. (rond en bond maar in netjies rye). Jou kind kan dan twee kaarte op 'n slag om draai. As die twee kaarte 'pas' bly die gesig kant na bo. Indien dit nie pas nie, moet dit weer omgedraai word met die 'gesigte' na onder. Hou so aan tot al die kaarte se woorde na bo wys. Om dit af te wissel kan dit ook met 'n stophorlosie gedoen word vir die kinders wat hou van kompetisies. Dit is baie goeie oefening om 'n goeie geheue op te bou.


Sien ook die skrywe en kaartjies vir teenoorgesteldes en antonieme.

Lekker speel.

Groete

Maryna 

Dae, maande, getalle, horlosie - vir die kleuters

Vir diegene wat nog jong kinders het, het ek 'n paar basiese hulpmiddels saam gestel wat jul kan aflaai en uitdruk.

Dae van die week
Maande van die jaar
Getalle 
Horlosie






Druk op karton uit en lamineer. Gebruik as flitskaarte of om iewers op 'n bord vas te steek. Die horlosie kan uitgesny word en die pyltjies (uur en minute) kan vasgesteek word om vir die kind te leer om die horlosie te lees.

Laai dit HIER af. 

Indien jy opsoek is na letterkaarte, kan jul dit hier aflaai.

Groete

Maryna

Tuesday 5 January 2016

Bybelgenootskap geleerdheidsprojek

'n Oulike geleerdheidsprojek om te leer lees en skryf is deur die Bybelgenootskap saamgestel. Dit is op jonger kinders gemik en is werklik baie oulik.

Dit bestaan uit twee boekies.My eerste Bybel doen en leer boek het sewe eenhede en My 2de Bybel doen en leer boek het tien eenhede. Daar is ook 'n handleiding vir elke boek.

Die boekies kan gratis afgelaai word as volledige boekies of eenheid per eenheid. 

Hier is voorbeelde uit die boekies om te sien hoe dit lyk.



  

Jul kan die Bybel doen en leer boekies gratis van hul webwerf aflaai. Registreer op die blad en gaan na die duimdruk bo Geletterdheid. Laai dit af HIER.

Geniet dit!

Groete

Maryna 

2016 wyshede uit die Woord

Wow...2016... kan julle glo?

Mag almal 'n wonderlike jaar beleef en mag God sy hand van beskerming en oor jul hou. Onthou soek eers die Koningkryk van God en al die ander dinge sal vir jul gegee word.

Hier is 'n paar wyshede uit die Bybel om jul deur die jaar te dra.

Die Here bepaal die koers van die mens
met wie se pad Hy tevrede is, en Hy ondersteun hom.
As so iemand val, bly hy nie lê nie,
want die Here help hom op.  (Psalm 37:23-24)


Moenie bang wees nie, Ek is by jou,
moenie bekommerd wees nie, Ek is jou God.
Ek versterk jou, Ek help jou, Ek hou jou vas,
met my eie hand red Ek jou.  (Jesaja 41:10)


“Julle moet julle dus nie bekommer en vra: ‘Wat moet ons eet
of wat moet ons drink of wat moet ons aantrek?’ nie. Dit is alles
dinge waaroor die ongelowiges begaan is. Julle hemelse Vader
weet tog dat julle dit alles nodig het. Nee, beywer julle allereers vir
die koninkryk van God en vir die wil van God, dan sal Hy julle ook
al hierdie dinge gee.”  (Matteus 6:31-33)


Kennis begin met die dien van die Here;
dit is net dwase wat wysheid en opvoeding gering ag. (Spreuke 1:7)


Wat julle ook al doen, doen dit van harte soos vir die Here
en nie vir mense nie, omdat julle weet dat julle van die Here as
beloning sal kry wat Hy belowe het. Christus is die Here in wie se
diens julle staan.  (Kolossense 3:23-24)


Groete

Maryna