Wednesday 30 September 2015

Boekloer: Blokraaisels vir Aapsterte

'n Baie goeie en oulike manier om kinders te help met hul woordeskat en spelling is deur blokraaisels te voltooi.

My kinders geniet die boek vreeslik. Ons het na aanbeveling van Lindi Malan van Beithasefer die boek aangeskaf. Ons het egter besluit om eers boek drie te probeer.



Ek het die antwoord gedeeltes in die boek uitgehaal sodat die kinders nie na dit kan loer nie. Ons doen dit saam en die kinders kry elkeen 'n beurt om te lees en te antwoord. Ek kan al klaar 'n verbetering in hul spelling sien.


Voorbeeld uit die boek
Sodra daar iets nuuts opkom wat ons dalk nie behandel het nie, staan ons 'n oomblik stil by dit en ons bespreek dit.


Antwoorde vir elke blokraaisel
Die boek het vyftig blokraaisels in en daar is tans drie boeke in die reeks.

Opdateer Julie 2017: Blokraaisels vir Aapsterte is ongelukkig uit druk uit. Jy kan egter die boekies Blokkies vir Slimkoppies in e-formaat HIER bestel. Dit is saamgestel deur dieselfde dame wat Blokraaisels vir Aapsterte saamgestel het.

Gee dit gerus 'n kans.

Lekker leer.

Groete

Maryna

SOTW 1: Hoofstuk 9 Die eerste stede van Indië

In hoofstuk 9 leer ons van die eerste stede in Indië. Hierdie hoofstuk is een van daai wat jou absoluut prikkel met baie vrae, wel vir my het dit beslis.

Ek geniet SOTW baie, nie net om vir my kinders geskiedenis van die wêreld te leer nie, maar ek self wat tot my laaste jaar op skool geskiedenis gehad en gehaat het, so baie leer. Ek leer goed wat ek nog nooit tevore geleer het nie.

Om terug te kom by hoofstuk 9. Ons het geleer van die Indus vallei en hoe die mense daar geboer het. Hoe hul stad gelyk het en hoe hul met ander dele handel gedryf het. Die mees fassinerende deel vir my was die feit dat hierdie mense 'n drein sisteem gehad het. Toilette in die huis en alles afgeloop na 'n sentrale punt. Hoe ongelooflik is dit dat iemand hul argitektuur so beplan het.

Die hartseer van die is die feit dat niemand ooit hul skrywe sover kon ontsyfer nie. Wat het hul werklik gesê, hoe het hul werklik geleef? Wat het van hul geword? Soos ons lees van Mohenjo-Daro was die mense uitgeroei deur vyande, of hul het die plek verlaat wees dalk na 'n skielike water tekort, dalk siekte. Wie weet? Gebeentes is in die strate opgegrawe. Kan jul glo... ek wens werklik waar ek was 'n kundige en Argeoloog want ek sou baie graag wou weet wat daar gebeur het.

Die kinders het vir hulle 'huisies' gebou en Makayla het ook 'n modder baksteen gemaak.



Hoe om die bakstene van die huisies te maak met klei wat jy self aanmekaar slaan.

Wat jy benodig:
2 koppies koekmeel
1 eetlepel kookolie
1/2 koppie sout
1 koppie water
Waspapier (waarmee jy toebroodjies toemaak)
liniaal
koekroller
Gom (craft glue)

Maak so:
Gooi alles saam en roer goed deur. Knie tot jy 'n lekker bal gevorm het. Indien jou mengsel te droog is gooi klein bietjie water by, as dit te veel aan jou vingers plak, gooi nog 'n klein bietjie olie by of smeer net jou hande met 'n bietjie kookolie.
Skeur waks papier af en laat jou kind die deeg bolletjie uitrol.
Laat hul die bakstene sommer uitsny met 'n liniaal. (draai die liniaal op sy sy en druk hard deur die deeg)
As al die bakstene klaar 'gemaak' is, spuit 'n bakplaat en bak in die oond. (moet dit nie op die waspapier in die oond sit nie, sit dit op die gespuite pannetjie. Veral as jy 'n gasoond het - die papier brand)
As dit reg is, dit sal bietjie bruin wees en hard, laat dit afkoel.

Ons het dit eers probeer oornag hard word (was nog sag) voor ons dit die volgende dag in die oond gesit het. Hierdie resep is eintlik vir lekker speel deeg, wat jy net kleursel kan bygooi en in ligdigte houers bere. Maar as jy dit gou wil hard hê, bak dit maar eerder.

As die 'bakstene' hard en koud is kan die kind te verf en droog laat raak, daarna is dit reg om te bou.

Bou so:
Hier kan jou kind hul absolute verbeelding gebruik. Soek bietjie op die internet hoe die huisies gelyk het. Plak die bakstene met gom op mekaar en gebruik 'n stukkie karton vir die dak.
Hier is 'n paar oulike video's om na te kyk. Dit gee vir ons 'n idee hoe dit daar was, hoe dit gelyk het en wat die mense gedoen het.

 









Lekker leer.

Groete

Maryna

Tuesday 15 September 2015

Lettergrepe - Is dit oop of toe?

Hier is 'n kort animasie videotjie wat ek gemaak het.

Dit is my eerste poging. Laat weet my wat julle dink.




Ek het die video 'n bietjie langer gemaak soos versoek.

Groete

Maryna

Monday 14 September 2015

Hoezit! Die webwerf met breinkrag.

As jy 'n baie oulike en leersame Afrikaanse webwerf soek, gaan loer gerus na Hoezit!

Daar is die oulikste en wonderlikste leermiddels.

Die webwerf met breinkrag.

Kyk na wat julle alles daar kan leer...en nog baie meer!






Geniet dit!

Groete

Maryna

Friday 11 September 2015

Nuwe Wiskunde program?

Ek sou nooit in my lewe dink dat ek ons huidige en wonderlike Math U See program eenkant gaan skuif.

Ja ons maak klaar die jaar met MUS en gaan volgende jaar Teaching Textbooks 'n kans gee.

Maar hoekom op des aarde wonder julle seker aangesien ek net met lof van MUS praat?

Tyd! Dit het alles te doen met tyd. Alhoewel MUS fantasties is en ek dit vir enige een sal aanbeveel en my kinders baie goed doen, draai hulle stokkies. Ja regtig! Ons kyk ons les op die DVD, ek kyk altyd saam. Hulle doen dan elke dag 2 dele (4 bladsye) van die oefeninge. MAAR hulle babbel, speel met die hond ens. Nee ek is nie so streng nie, maar soms gaan tot 2 ure verby en dan is hul eers klaar. Dit beteken vir my daar is minder tyd vir ander goed. Ons kan nie elke dag so lank spandeer op net een vak nie. 


Teaching Textbooks werk op die rekenaar. En ja ek het nooit gedink ek sou die roete gaan nie. Die kinders kyk die les, die ou verduidelik baie goed en ook stap vir stap. Tussenin kry hul 'n kans om te 'antwoord' en dan daarna begin 'n paar oefeninge en dan die amptelike werk. Die rekenaar program merk alles. As hul iets verkeerd het, het hul die opsie om te kyk na die oplossing. Dit wys nie net die regte antwoord nie, maar hy verduidelik presies hoe om by dit uit te kom. Op die ouer se profiel kan sy ingaan en kyk wat het die kind alles gedoen, wat het hy verkeerd, het hy na oplossings gekyk ens.

Daar is ook 'n werkboek wat basies presies dieselfde is as op die rekenaar, dus het kinders nog die opsies om dit te gebruik maar is nie 'n moet. In die program word die som gevra en die finale antwoord moet ingetik word, dus moet die som tog uitgewerk word of in die werkboek of op 'n stukkie weggooi papier.

Ek het baie kommentaar gelees oor die program, baie is nie so beïndruk (en baie was van mense wat dit nie eens gebruik het nie - aai aai) en baie is mal daaroor. Ek moet sê almal hier in SA wat dit gebruik is hoogs gelukkig en dit maak my hart gelukkig.

Ons gaan dit 'n kans gee volgende jaar en kyk hoe dit gaan. As dit nie goed werk gaan ons terug na MUS.

Daar is oulike voorbeelde (demo) wat jy kan doen om te sien hoe dit werk op hul webblad. Ek sê altyd 'try before you buy'. As iets nie 'n voorbeeld het nie koop ek dit nie. TT begin eers van Graad 3 af.

Dit is nie 'n goedkoop program nie, veral as jy dit van oorsee bestel. Ek het egter 'n tweedehandse kopie gekoop. 

Ek sal julle volgende jaar op hoogte hou van ons amptelike ondervinding met die program.

Groete

Maryna