Friday 24 July 2015

Deurbraak in lees

Baie Tuisonderwys ouers se grootste kommer is gewoonlik hul kind se vaardigheid om te lees.

Ek wil graag ons storie met julle deel.

Albei my kinders het taamlik vroeg begin leer lees (probeer). Iemand het eendag vir my gevra hoekom laat ek hulle elke dag lees? Dit het vir my ongelukkig slegte gevolge gehad. Ek was baie hard op hulle en wou net hê hul moes suksesvol wees.ROOI VLAG!!



Makayla was die voorloper, sy het fantasties gelees. Matthew het baie gesukkel. Voor ek my oë kon uitvee het Matthew skielik goed gevaar. Ek het met 'n skok terug aarde toe geval nadat Makayla eendag vir my voorlees en basies nie kon lees. Dit was asof sy jare se stappe terug gegee het. Ek kon dit nie verstaan nie. Hoe kon my kind nie lees nie?

Ek het 'n goeie vriendin genader en sy het met my meegedeel dat Makayla 'n lees blok het. Ja kan jul glo daar is so iets. Lees blok kan gebeur deur twee redes. Die persoon word te veel gedruk en is onder stress of as gevolg van 'n emosionele situasie. ROOI VLAG!

Ons het die lees net eenvoudig laat staan. Ja, ek het vir hulle voorgelees en nie dat hulle vir my enige iets voorlees nie. Stadig maar seker het hulle weer ietsie begin lees. Dit was moeilik vir Makayla alhoewel sy baie daarvan gehou het. 

Elke aand lees Makayla haar Bybel. Die Bybel@Kinders die een met altwee vertalings (uit druk uit). Sy het altyd baie hulp gevra met die woorde. Ek het haar hier en daar gehelp maar vir haar gesê as sy dit mooi hardop spel en in lettergrepe opdeel, sal sy weet wat dit is. Matthew het haar natuurlik baie gehelp.

Met hul Math U See lesse lees hul self hul woordsomme. Sukkel-sukkel het Makayla probeer aangaan met die somme wat sy dit nie wou en kon lees, ma het maar altyd ingespring en gelees.

Skielik uit die bloute lees sy haar sinne vlot. Ek is uit die veld geslaan en so gelukkig soos wat kan kom.

Wat leer ek hier uit. Leer die kind lees wanneer hulle reg is. Moet hul NIE druk nie. Hul sal daar kom een of ander tyd.

As jou kind sukkel, maak eers seker jou kind ken al hul klanke goed. Stel lettergrepe bekend en leer woorde so aan. Vat dit dag vir dag, bietjie op 'n slag. Gebruik 'n boek wat hulle baie geniet. Vir Makayla was dit haar Bybel want sy wou meer weet en dit is geskryf spesiaal vir kinders. Vir iemand anders kan dit dalk 'n strokiesprentboek wees. Begin eers as jy sien jou kind is reg daarvoor.

Ek hoop werklik iemand kan baat uit ons ondervinding.

Groete

Maryna

Tuesday 21 July 2015

Uit 'n Tuisonderwys moeder se pen

Marelize Keyter, veteraan Tuisonderwys moeder het die skrywe vandag op die Tuisonderwys yahoo forum geplaas. Met toestemming plaas ek dit hier.

Dit is vir almal wat nuut is in Tuisonderwys. 


"Gereeld sien ek hierdie opskrif op die e-poslys.

Gewoonlik met vrae en stellings soos: Ons is nuut in tuisonderwys. Moet ons registreer? Watter kurrikulum moet ons koop? Watter is die beste Afrikaanse kurrikulum? Ens...

En ek wag vir die antwoorde op hierdie vrae.

Want sien, na meer as 10 jaar op die pad van tuisopvoeding (en dis maar betreklik kort, daar is ander gesinne wat my jare voor is) het ek die hele sirkel voltooi...maar genadiglik darem nie oorweeg om die kinders terug te sit in die skool nie!

Dit bly interessant om te sien hoe ander ouers raad vra, dit kry en in die wind gooi. Maar miskien is dit juis daardie eiewyse wegdraai en self koers kies wat TO anders maak.

Ons besef "iets" is fout in die hoofstroom-skooltipe onderwys, maar ons kan om de dooi dood nie daarvandaan wegbeweeg nie. Ons klou erger as 'n neet aan 'n kleuterkop.

Ongeag hoeveel veterane aan nuwelinge verduidelik dat kurrikula die allerlaaste ding is waaroor jy jou moet kwel, dit bly die nr 1 vertrekpunt. So asof die kurrikulum aan jou vastigheid in 'n totaal onseker veld en wêreld sal gee. Dan ruk ma pa se tjekboek uit, laat die kredietkaart sing en binne minute is R20 000 van bank verwissel....maar geen waarborg vir enige leer, onderwys en veral opvoeding is gegee nie. Geen.

Die indrukwekkendste kurrikulum kan op die rak staan en stof vergader, gewoonlik omdat dit vir 'n skoolsituasie geskryf is. Ekself het al na kurrikulums gekyk en gewonder watter graad ek as ouer nodig het om  enigsins te verstaan wat van my verwag word. Dit is doodeenvoudig nie prakties vir 'n huisgesin met kinders van verskillende ouderdomme, belangstellings en leerfases nie. Dis absurd.
Die gesinsdinamika het nie verander in 'n skoolklaskamer nie. Die telefoon lui, die rys brand, die tuinjong het sy toon met die grassnyer bygekom, Liesbeth daag nie op nie, dinge gebeur. En as pa van die huis af werk, soveel te meer. Hiermee het geen kurrikulumskrywer tred gehou nie, want nie een van hulle het tuisonderwys gedoen nie, bloot onderwys.

En eerlik, 'n onderwyser verstaan nie die "werklike" lewe nie. Hulle opleiding en realiteit is bloot klaskamers. Verwaterde, kliniese, stukkies van die werklike, kleurryke en aksiebelaaide, polsende lewe.

Hoekom wil ouers dan hul kinders, wat hulle juis nou uit die skool gehaal het, terugsit in 'n miniatuur laboratorium?

Leef die lewe!!

Gebruik die lewe as kurrikulum. Benut elke dag se onbenullighede as leergeleenthede. Stap op 'n koue wintersoggend uit en blaas in die lug. Let op hoe "rook" die hele gesin. Gesels oor waterdamp, kook die ketel en let op die stoom. Hang wasgoed op en los die raaisel oor waar die water heengaan op. Plant saadjies, laat bone oornag in water opswel, spit erdwurms uit. Hou 'n jagspinnekop dop, besoek 'n plaas, die winkels, die biblioteek, hospitaal, brandweer, poskantoor, bank. Leer jou kinders hoe om met geld te werk, laat hulle bak en brou. Leef bloot jou lewe...dis al wat regtig nodig is. Dis kurrikulum genoeg.

Lees, lees en lees. Verryk jou kind se verbeelding, verbreed hul woordeskag en algemene kennis. Vergeet daarvan dat hulle op 6 self moet lees, dis belaglik. Lees eerder self goeie opvoedkundige boeke (Better late than early, deur Raymond en Dorothy Moore; How children Fail en ook How children Learn, deur John Holt; Om seuns groot te maak deur James Dobson) en staan verstom voor die almag van ons Skepper wat die vermoë tot leer in elkeen geplant het, en elkeen individueel tot wasdom lei. Geen twee kinders ontwikkel teen dieselfde tempo of leer enigiets op dieselfde moment aan nie. Jy gaan jou kinders 'n groter onreg aandoen deur hulle te vroeg te druk.

Lees hardop voor. Verbreed horisonne, breek onbekende wêrelde oop en verryk hul karakter.
Gooi weg: TV, videos, rekenaarspeletjies (veral die opvoedkundige tipe), dank die bediende af en laat die kinders verantwoordelikheid in die huis aanvaar.

Ek het aan die begin gesê dat ek die sirkel voltooi het.... ons het. Kurrikulum regdeur tot volbloed "unschooling".... en ons kinders het die meeste geleer die moment toe ons opgehou het om vir hulle te wil leer.

Kinders leer vanself. Maar net wanneer ouers terugstaan en hulle toelaat om self te leer.
Raak self stil, en gaan dink baie mooi na oor wanneer jy werklik iets geleer het.

Groetnis
Marelize Keyter
Tuisopvoeder sedert 2005, ma van Leticia (20, GED en Montessori-opvoeder), Henry (18, GED en aspirerende student), Johan (13) en André (11). Boervrou, wiskunde ekstra-klas tannie en passievol oor TO."

Ek kon nie dit beter gestel het as Marelize nie. 


Groete

Maryna

Nuwe kwartaal skop af

En so het die nuwe kwartaal afgeskop.

Ons het getrek, ons is rustig in ons eie huisie. Sondag hardloop ek toe rond en kry bokse uit die motorhuis om ons boeke, potlode, penne ens bymekaar te skraap. Die kas het net soveel plek, waar pak ek alles, wat kies ek, wat sit ek eers terug in 'n boks? My kop het behoorlik gedraai.

Hier sit ons en doen Wiskunde en taal by die eetkamertafel en op die bank. Ons het nie 'n skoolkamer en alles voel net nie lekker vir my. Ek soek my plek, my plek waar ek op 'n witbord vir die kinders kan verduidelik, goed skryf, dinge daarteen plak. Waar sit ek die skeppings?

Ja ek neem baie die rol van juffrou in, my kinders hou van orde, hulle hou van ma wat saam leer.

Lui lui begin ons die nuwe kwartaal, ek het baie planne ja, maar vir die week sleep ek nog die voete.

Verder plant ons blomme en plante uit, ontdek plante en bome se name, bekyk die tuin, voer die magdom voëls wat hul ete kom haal. Ons leer om ons papier, plastiek en karton te hernu en geniet net die lewe.

Is dit nie wonderlik om te Tuisonderwys nie ;)

Groete

Maryna

Monday 13 July 2015

Blender 3D Skeppings: 2

Ek het 'n geruime tyd terug vir julle vertel van Matthew se Kreatiewe 3D Skeppings

Ek deel graag nog 'n paar skeppings wat hy ontwerp het. Daar is nog vele meer.


 Vliegtuie, motorfietse, skaak, masjiengewere en 'n yskas. Van die fototjies het afgesny, die yskas was 'n versoek van iemand ;)

Die motorfiets heel bo regs was deel van 'n klas, die res alles sy eie skeppings.

Lees gerus my vorige inskrywing as jy meer van Blender wil weet en hoe jou kinders klasse kan neem.

Groete

Maryna