Sunday 21 June 2015

My kunstige lewe

Ons as Tuisonderwys moeders het soveel meer in ons as net ons kinders te leer.

Wat sommiges dalk nie weet van my is dat ek ook 'n vryskutskrywer, vertaler en kunstenaar is. Die kunste is 'n baie groot deel van my lewe. Ek skilder in olie, aktriel en waterverf. Ek teken ook met pen & ink en potlood, werk met pastelle en ook waterverf potlode. 'n Keer of wat ook 'scratcboard' probeer.

Hieronder is 'n kykie na van my tekeninge wat ek in Pen en Ink gedoen het.



Hieronder is 'n paar van my waterverf skilderye wat ek geverf het.



Hieronder is 'n paar van my olie skilderye wat ek geverf het.



Hieronder is 'n paar van my potlood sketse.


Om kuns goed te kan beoefen het jy baie oefening nodig, teken elke dag, werk aan tegnieke. As jy ernstig is oor kuns, belê in goeie kwaliteit produkte, dit geld vir alles, van verf tot potlode tot die papier. 

As jou kinders baie belangstel in kuns, laat hul eers met studente kwaliteit materiale werk en soos hul vorder koop vir hul beter kwaliteit goedere. Kuns is nie 'n goedkoop aktiwiteit nie, maar dit is werklik elke sent werd. 

Groete

Maryna

Monday 15 June 2015

Nuwe hoofstuk

Ons is die laaste paar weke stadig maar seker besig om al ons laaste besittings in te pak. 

Wel eintlik kan ek nie regtig sê stadig nie want meederheid is al weke gelede gepak. Bokste staan die huis vol en dit lyk behoorlik woes.

Ons verhuis die 25ste na ons eie huis. Ons eerste huis wat ons eie is. Dit is natuurlik my (ons) grootste droom wat waar geword het. Na baie jare se bid het dit uiteindelik waar geword.

Ons is al meer as 7 jaar in Durban (area) en het al menigte kere getrek waarvan ons verlede jaar in 3 verskillende huise gewoon het. Die trek na ons eie huis is absoluut 'n nuwe hoofstuk in ons lewens.

Ons het uiteindelik 'n holte vir ons voet, 'n tuiste, 'n plek waar die kinders kan weet daar is altyd vir hul heenkome.

Ek sien uit na die nuwe hoofstuk. God is so goed vir ons, elke dag kan ons net vir Hom dank vir al die seëninge wat Hy oor ons bring. 

Hou altyd aan bid en glo...God antwoord op Sy tyd!

Groete

Maryna

Monday 1 June 2015

Klank aktiwiteite

Sien klank

Hierdie klank aktiwiteite het ons 'n paar jaar gelede gedoen.

Ek het vergeet om 'n foto van die eerste een te neem maar onder is 'n prentjie om vir jul 'n idee te gee.

Wat jy benodig:
'n Bak, plastiek, rekkie, kleefband, 'n paar ryskorrels, 'n pot en 'n houtlepel.


Foto bron: Sound - tune into sound and see the way it works by Steve Parker


Maak so:
Nes in die foto hierbo, plaas die kleef plastiek oor die opening van die bak, hou dit in plek met die kleefband en rek 'n rekkie oor die bokant van die bak. Plaas 'n paar ryskorrels bo op. Neem die pot en hou die naby die bak, slaan met die houtlepel op die pot.

Wat gebeur:
Die houtlepel wat op die pot geslaan word veroorsaak klankgolwe. Die klankgolwe laat die plastiek vibreer en die ryskorrels spring op en af.

Die eksperiment wys vir ons hoe 'n oordrom werk. Klank gaan binne die oordrom wat dan vibreer en so hoor ons die klanke om ons. 

Skiet met klank

Wat jy benodig:
'n Toilet rolletjie; plastiek, rekkie, stukkie karton, stukkie papier.

Maak so:
Knip die karton rond (net so groot soos die rolletjie se opening). Maak 'n gaatjie in die karton. Met kleefband plak die stukkie karton aan die toilet rolletjie vas. Op die ander punt, trek die plastiek oor die rolletjie vas met die rekkie soos in die foto. Plak 'n stukkie papier op 'n tafel oppervlak vas. Maak seker 'n langer strook staan regop soos in die foto. Hou die rolletjie taamlik naby die papiertjie en skiet die plastiek deel van die rolletjie met jou vinger.

Wat gebeur:
Die klankgolwe kompak en beweeg deur die rolletjie en uit by die gaatjie in die karton. Die golwe slaan teen die papiertjie vas en veroorsaak dat die papiertjie agtertoe buig.

Alternatief: In plaas daarvan om 'n papiertjie te gebruik, kan jul 'n kers gebruik wat aangesteek is. Die klankgolwe sal die kers dood blaas.

Hoor klank

Wat jy benodig:
'n Dun plastiek pyp, 'n tregter en kleefband.

Maak so:
Maak 'n stetoskoop
Plaas die tregter binne in die pyp se opening en plak dit stewig vas met kleefband. Maak seker dat geen lug ontsnap nie. Ons het dit oorspronklik met die pyp soos in die foto gedoen, maar met 'n volgende keer 'n langer en dunner pypie gebruik wat beter gewerk het.

Wat gebeur:
Wanneer jy die tregter op die kind se bors plaas kan die hartklop duidelik gehoor word, nes 'n dokter na ons harte luister. Die klankgolwe van die hartklop versamel in die tregter en beweeg in die pyp af na die oor. 


Luidspreker
Wat jy benodig:
'n Groot vel karton en kleefband.

Maak so:
Rol die karton soos in die foto en plak dit vas met kleefband sodat dit nie uitrol nie.


Luidspreker


Wat gebeur:
Die 'horing' neem al die klank op en voor dit vrygestel word, versterk die klank vorentoe wanneer daardeur gepraat word. Wanneer jy daarin luister gaar al die klank in die oop kant en beweeg vorentoe na jou oor.
 
Stembande vibreer en vorm klanke wanneer die lug uit jou longe gestoot word.

Lekker leer.

Groete

Maryna