Tuesday 25 August 2015

Knutsel met Skribbel masjiene

In my vorige skrywe het ek julle bekendgestel aan die die konsep om te knutsel. Daarna het ons afgeskop met die elektriese stroombaan aktiwiteit. Vandag wys ek vir julle hoe om skribbel masjiene te maak.


Verskeie van ons skribbel masjiene
Hieronder is 'n paar video's om te wys hoe ons masjiene beweeg het.






Wat jy alles benodig:
- Bakkies of glasies (enige iets wat nie te swaar is nie)
- Baie velle papier
- Maskeer band
- Kryte of koukie penne
- 'n battery
- 'n motortjie (die tipe wat 'n mens in speelgoed aantref) (maak seker dit het 'n positiewe en negatiewe draadjie aan)
- 'n stukkie gomgeweer stafie (of iets om te gebruik as 'n gewig sodat die motor kan vibreer)
- Opsioneel: pyp skoonmakers, ogies - enige iets om kreatief mee te wees.
Maak so:
- Plak die kryte of penne aan die glasie of bakkie vas met maskeer band. Jy kan enige hoeveelheid gebruik.
- Plak die battery teen jou glasie/bakkie vas.
- Sit vir jou motortjie 'n gewig aan - sny 'n stukkie van die gom stafie, maak 'n gaatjie in. Maak seker die gaatjie is nader aan die een kant as die ander kant sodat die gom nie in gelyk is aan albei kante nie. Druk die gom stafie in die lang deeltjie van die motortjie.
- Plak die motortjie aan jou glasie/bakkie vas. - Jy kan dit enige plek plaas solank dit kan vibreer, op die kante vibreer dit gewoonlik meer. Jy kan self die motortjie onder vasplak dat die glasie/bakkie daarop hop.
-Plaas die velle papier op 'n tafel, so groot as moontlik aangesien die masjiene wild rond hardloop en krap.
- Plak die negatiewe en positiewe dele aan jou battery vas en laat jou masjien hardloop.

Met die aktiwiteit moet jy die kinders vry laat ontdek. Die moontlikhede is eindeloos.

In die volgende knutsel inskrywing gaan ek vir julle wys hoe om naaldwerk stroombane te maak.

Lekker leer en speel.

Groete

Maryna

Tuesday 11 August 2015

Knutsel met Elektriese stroombane

In my skooldae het ons formeel van stroombane geleer. Die juffrou het die demonstrasie gedoen en ons moes die diagramme teken en al die betekenisse skryf en leer. Klink opwindend nê! Nee nie regtig nie.

Wat as...



Wat as jy vir jou kind komponente kan saamstel wat tot die jongste peuter kan gebruik om te leer hoe elektriese stroombane werk. Sonder dat jy enige insette gee, gee jy jou kind die geleentheid om te beproef en te toets hoe 'n gloeilampie werk en ook 'n skakelaar ens.



Wat jy alles benodig:
- Houtblokkies
- Spykers (geleibaar)
- Soldeerbout
- Krokodil knippies (rooi en swart)
- Gom geweer
- Verskeie batterye 
- Battery houers
- Gloeilamp houers
- Gloeilampies (die wat jy in 'n flits gebruik)
- Gonsers (buzzers)
- Skakelaars
- Enige ander komponente - opsioneel (waaiertjies, verskeie skakelaars, motortjies, ratte wat beweeg ens)

Verskeie komponente en benodighede
Maak so:
Houtblokkies:
Sny houtblokkies groot genoeg om afsonderlike komponente daarop vas te kan sit. (Ek het afval hout stukkies gebruik.) Jy kan 'n handsaag of elektriese saag hiervoor gebruik. Skuur die kante sodat daar geen skerp dele is en om van enige splinters ontslae te raak.

Sit komponente op die blokkie:
Battery houers: Jy kan die battery houer op die houtblok vas skroef. Die enkel battery houers het slegs een gaatjie, ek het dus net een skroef gebruik. Die vier battery houers het vier gaatjies, twee-twee bymekaar, ek het slegs 2 skroewe gebruik, een aan elke kant. Alternatief kan jy die battery houer met 'n gom geweer aan die houtblok vas gom. Slaan twee spykers 'n entjie uit mekaar in die houtblok in. Ek het nuwe plafon spykers gebruik. (My eerste poging met ou gewone spykers was nie suksesvol.) Draai die oop draadjie gedeelte om die spyker en soldeer die draadjie aan die spyker vas. Maak seker daar is behoorlike konneksie teen die spyker om te verseker dat die krag daardeur kan vloei. Plaas nou gom waar die draadjie op die houtblok lê om te verseker alles bly mooi in plek. (sien foto hieronder)



Ander komponente: Alle komponente sal op die blokkie gesit word met of 'n skroef of teen die blokkie vas gegom word. Dit sal presies dan verder vasgesit word soos bo verduidelik. Neem kennis die gloeilamp houers wat ek het is wat ek in die hande kon kry, daar is ander wat slegs met 'n skroefie vas gesit kan word aan die blokkie. Indien jy van die soort het wat ons het, sit dit vas met 'n skroef en slaan die spyker teen die metaal plaat vas sodat daar 'n konneksie kan wees.

Die kind kan met die krokodil knippe die komponente met mekaar verbind. Die doel van die aktiwiteit is om NIE (die ouer) die stroombane vir die kind te bind nie. Dit is slegs jou verantwoordelikheid om alle komponente saam te stel.



Die knutsel aktiwiteite met die stroombane kan kinders van enige ouderdom doen, selfs kleintjies. Die kinders geniet dit baie. Moet nie sommer inspring en met jou eie hande wys nie, jy kan slegs met jou mond voorstelle maak. Laat hulle verskillende skakelaars probeer en ook waaiertjies aansit ens.

Neem kennis:
Gloeilampies: Maak seker wat die volt sterkte van jou gloeilampie is, moet nie meer as een battery wat 1.5V is op 'n gloeilampie sit wat ook slegs net 1.5V is nie, jy sal dit blaas. Indien jou gloeilampie 3.5V is, gebruik dan twee batterye ens.
Skakelaars: Indien jou skakelaar meer as een posisie het is dit belangrik om te onthou daar is altyd net een negatief op die skakelaar en die res is almal positief.

Ek het 'n multimeter (multitester) by my man gekry. Dit het my baie gehelp om te toets of al my komponente kontak het op die spykers. Dit is nie 'n moet item nie.

Wenk: Neem jou tyd met die aktiwiteit en ook om die komponente bymekaar te sit. Toets eers alle komponente voor jy dit vir jou kind gee om mee te werk. 

Neem dit verder: Indien jou kind vertroud is en voel hy/sy het genoeg dae met dit spandeer leer hulle hoe om stroombaan diagramme te maak. Laat hulle 'n spesifieke stroombaan bou en dit dan te teken. Verduidelik hoekom wat gebeur of hoekom nie. Leer vir hulle die simbole ens. 

'n Woord oor soldeer: Dit was my eerste keer dat ek self gesoldeer het. Dit neem geduld en oefening. Ek is tans in die proses om 'n kort Strokiesprentboek in Afrikaans te vertaal wat wys hoe om te soldeer. Ek sal dit plaas sodra ek klaar is.

Ek hoop julle geniet die aktiwiteit soveel soos wat ons dit geniet. Indien julle enige vrae het, vra gerus en deel julle ondervinding met dit.

In die volgende knutsel inskrywing gaan ek vir julle wys hoe om skribbel masjiene te maak. Dit is vet pret vir die kinders!

Groete

Maryna

Tuesday 4 August 2015

Om te knutsel

Die woord knutsel mag moontlik vreemd wees vir sommiges. Meeste ken dit maar as die Engelse woord Tinker.

Nou wat presies is knutsel en hoekom is dit so belangrik?

Knutsel gee jouself en jou kinders die vryheid om te kreatief te raak, om 'n oplossing te vind vir moontlike struikelblokke, om te leer terwyl hul met hul hande werk. Hul leer om hul verstand te gebruik en toe te pas wat hul ontdek of leer het.

Kom ons neem die Disney karakter Tinkerbell vir 'n oomblik, sy Tinker, sy skep, maak iets uit niks.

Stel jul skooldae so voor: Wiskunde werkboek, taal werkboek, Wetenskap - vul hier, kyk 'n video daar, ma wys en hulle sit en gaap. Dit geld vir menigte vakke.

MAAR stel jouself nou dit voor: Jul haal 'n boks uit die kas vol verrassings. Dit is nou natuurlik as jy nie reeds 'n knutsel ruimte het nie. Binne is daar draadjies, batterye, liggies, ratte, wieletjies, waaiertjies en nog vele meer. Jou kinders se oë rek van opgewondenheid.

Hulle pas en toets en speel. Dit werk saam, dit werk nie saam nie, dit kan so beweeg en dit hop op en af. Ma antwoord net nou en dan as die kind 'n vraag vra. Baie belangrik ma help nie, ma bou nie. Ma kyk hoe haar kinders ontdek en skep.

Nie net kan knutsel gebruik word in Wetenskap nie, maar hul kan ook Wiskunde daaruit leer, of Aardrykskunde of self hul taalvermoë uitbrei en opbou. Knutsel stel hul in staat om 'n wye spektrum van dinge te leer sonder dat hul besef hul leer.

In die Ted video hieronder wys die kunstenaar CH Huang wat hy alles met sy geknutsel maak.


Dit klink en lyk opwindend!

In my volgende inskrywing gaan ek jul wys hoe om basiese elektroniese komponente saam te stel vir die kinders om mee te knutsel. Dit gaan vet pret wees.

Groete

Maryna