Thursday 30 April 2015

Gunstelling kurrikulum wat werk!

Ek het in die jare wat ons Tuisonderwys werklik al baie boeke aangekoop. Sommiges was goed, sommiges nie so goed. 

Ons het ook al 'n paar verskillende kurrikulums probeer van verskeie buitelandse verskaffers. Ek deel graag ons gunstelling en beste beleggings wat ons nog gemaak het.

My top twee gunstellinge is Math U See Wiskunde program en Fix It! Grammar van die IEW (Institute Excellence in Writing).

Hoekom is hierdie gunstellinge? Want dit werk! My kinders is elke dag opgewonde om albei hul Wiskunde en Grammatika werk te doen. Hulle leer daaruit, bou daarop en onthou dit. Die vrugte word gepluk van albei die programme, ek sien hoe hulle vorder. Daar was nog nie een dag waar ons wou hare uit ons koppe trek oor enige van die vakke nie.

Dink hieroor:Daar is so baie programme wat oulik is, die kinders kan dit getrou elke dag doen. Eendag probeer jul weer terug gaan na iets wat 'n ruk terug behandel was en dan onthou hul niks. Dit is die laaste ding wat enige ouer wil hê. Daai vaslegging van iets is so belangrik. Daarom geniet ons MUS en Fix It so baie, want hulle onthou alles.

Ek moet erken ek self leer ook so baie met die programme.

Die aankoop kostes is gewoonlik prysig, maar dit is elke sent werd. MUS kan aangekoop word deur Oikos wat in Howick is. Hul lewer sommer binne 'n paar dae by jou deur af. Fix it moet jy egter van oorsee bestel. Gee jouself meer as 'n maand. Ek het die hele reeks op een slag bestel om posgeld te bespaar. 

Ons probeer soveel as moontlik om nie heeltyd boekwerk te doen nie, maar te leer deur te ontdek en dieper in verskillende onderwerpe te delf. Ons maak ook baie gebruik van speletjies, allerhande soorte. Dit sluit taalwerk in ;)


Wat is julle gunstelling? Gesels laat ons hoor :)

Groete

Maryna

Boek: Papier vliegtuie

Na 'n besoek aan ons plaaslike Bargain Books het Matthew hierdie oulike boek gesien oor papier vliegtuie. Nes enige seun wil hy net goed bou en maak. As dit van papier is, nog beter.

Die boek is baie eenvoudig saamgestel. Dit begin met die basiese stap vir stap voue. Dit beweeg aan na meer ingewikkelde vliegtuie. Agter in die boek is daar speletjies wat jy met die vliegtuie kan speel. Daar is verskeie bladsye met pragtige gedrukte patrone wat hul kan uitskeer om die vliegtuie mee te bou.

Alles wat benodig word is in die boek. Indien jou kind jonk is en nie kan lees nie, is dit nie 'n probleem aangesien alles met prentjies aangedui word. Die ouer kan die speletjie instruksies vir die kind voorlees. Die boek is werklik 'n fees vir enige seun of dalk dogter ;) 

Basiese voue
Verskeie speletjies wat gespeel kan word.



Papier om die vliegtuie mee te bou.



Van die items wat in die boek ingesluit is.


Die boek is 'n oulike geskenk idee. Daar was 'n groot verskeidenheid boeke van papiervliegtuie, hierdie was die een wat ons egter nou gekies het. Gaan loer bietjie by Bargain Books, daar is oulike boeke. 

Geniet dit!

Groete

Maryna

Tuisgemaakte speel klei van deeg

 As kinders siek is en werklik nie krag het vir skoolwerk nie, is daar altyd ander idees om hulle besig te hou. Klei speel is een van daai idees. 

Hierdie was deel van 'n baie ou blog skrywe wat ek op my Engelse blog geskryf het. Ek plaas dit hier vir diegene wat graag vir hulle kinders wou doen.

Tuisgemaakte klei van deeg.


Ons het 'n groot ou plastiek koekblik wat vol verskillende vorms is. Ons gebruik dit nie vir koekies nie, maar wel vir klei. Dit kan hul ure besig hou.

Sagte klei resep

Wat jy benodig:
2 koppies meel
1/2 koppie sout
1 eetlepel kookolie
1/2 koppie water
Kleursel

Maak nou so:
Meng alles saam in 'n bak - gebruik sommer jou hande ;)
As dit te droog is, voeg 'n bietjie water by, maar net 'n bietjie op 'n keer.
As dit te nat is, voeg nog meel by.
Knie dit tot jy dit in 'n bal kan vorm en haal dit uit die bak.
Op 'n meel bestrooide oppervlak, knie dit nog 'n bietjie tot dit ferm is.
Gooi kleursel oor en knie dit nog. Jou hande gaan wel gevlek word in die meng proses. Meng dit deeglik in tot geen kleursel meer afgee nie. (niks wat water en seep nie kan reg maak)
Bêre die klei in 'n plastiek houer.

Wenke:
*As jy die kleursel deeglik in die klei meng sal dit nie op klein handjies afgee nie :) 
*Ek het die deeg in kleiner bonneltjies verdeel en elkeen 'n ander kleur gekleur.
*Ek het kleursel gebruik wat in 'n 'gel' en poeier vorm was.

Hierdie 'af' dae gee ons moeders kans om met ander goed op te vang of om bietjie ietsie te doen wat ons self graag wil doen.

Lekker speel

Groete

Maryna

Friday 10 April 2015

Voël kunswerke

Nog 'n projek wat ons baie lank terug gedoen het. As deel van ons voël kunswerke het Matthew 'n paar papier voëls aangepak.

Die papierkuns is geskik vir iemand wat taamlike ondervinding het met die plak en bou van die soort 3D papierkuns. Vir 'n jonger kind kan dit moontlik moeilik wees.

Valk
Kingfisher
Jy kan die instruksies en patrone gratis aflaai van Canon Creative Park site se webblad. Valk en die Kingfisher. Daar is oor verskeie ander voëls wat afgelaai kan word.

Ons volgende verfkuns het ons die prentjies in die tydskrif Craftwise gevind.
Matthew se weergawe

Makayla se weergawe
My weergawe
Ons het hierdie op 'canvas' borde geverf met akriel verf. Die lekker ding van akriel verf is dat dit vinnig droog word en is dus ideaal vir kinders om mee te werk. Indien dit nog bietjie nat is en jy wil dit vinnig droog kry, gebruik net 'n haardroër. In my weergawe het ek papier blare met die verf op geplak.

Probeer dit, lekker speel en skep.

Groete

Maryna

Thursday 9 April 2015

Vis kuns

'n Kuns projek wat ons baie lank gelede aangepak het.

Op my Pinterest bord vir kinder kuns projekte het ek hierdie een van Koi visse gemerk.Die oorspronklike projek kan by Art Projects for Kids gevind word. Hierdie was ons poging.

Dit was met waterverf gedoen.


Makayla se Koi
Matthew se Koi
Ek het myne in my kunsjoernaal geverf. My joernaal bestaan uit verskillende sketse, verf stukke en skryfstukkies. Indien jy ook vir jou 'n kunsjoernaal wil aanskaf, maak seker die papier is dik.



Hieronder is 'n skildery in olie wat ek in 2012 voltooi het as deel van 'n kuns klas wat ek geneem het deur Paint Basket.


Probeer gerus die Koi projek soos wat die kinders gedoen het en wys julle weergawe.

Groete

Maryna

Vingerafdrukke

Ons het 'n paar jaar gelede die aktiwiteit in ons studie oor sintuie.

Hierdie is egter 'n onderwerp wat ons weer gaan behandel maar bietjie dieper in die onderwerp in delf.

Daar is geen mense wat dieselfde is in die hele wêreld nie, nie eens 'n identiese tweeling nie. Net soos ons DNA verskil, so verskil on vingerafdrukke ook. Dit is wat jou 'n identiteit gee. Polisie gebruik vingerafdrukke om te bepaal of iemand 'n verdagte is. 

Hier onder is 'n aktiwiteit om die kinders se vingerafdrukke te neem.

Wat om te doen:
1. Neem 'n gewone grys potlood en krap dit op 'n stuk papier.
2. Plaas jou kind se vinger op die gekrapte merke.
3. Gebruik dan bree kleefband of kontak plastiek en plaas dit op jou kind se gesmeerde vinger, druk op die kleefband en trek dit af.
4. Sit nou die kleefband op 'n papier en siedaar, vingerafdrukke.

Leers hier op Mieliestronk meer van vingerafdrukke.
 
Nog 'n aktiwiteit, vingerafdruk mannetjies.

Ons het die boek gebruik Great Thumbrpint Drawing Book deur Ed Emberley's wat ons by die biblioteek gevind het. Daar is verskeie drukke van die boek.

Meer oor ons vel

Die ongelooflikse feit van vel is dat dit die grootste orgaan van die menslike liggaam is. Dit weeg ongeveer 15% van jou massa.  Wanneer jou warm kry, sweet jy, die sweet verdamp en verkoel jou liggaam.


Dit is belangrik wanneer ons kinders oor vel leer, dat ons ook vir hul leer hoe om dit te versorg, dit sluit sonskerm en vele meer in.

Lekker leer.

Groete

Maryna

Wednesday 1 April 2015

Bordspeletjies - aflaai

Ons is groot aanhangers van animasie films.

Ek het bordspeletjies op die internet gevind wat julle gratis kan aflaai.

Ek het dit op karton en in kleur uitgedruk. Ek het dit ook oorgetrek met kleefplastiek (contact film) sodat dit lank mooi bly.

Die instruksies van hoe om die speletjies te speel is ingesluit in die aflaai. 

Die een is gebaseer op die film Turbo.

Laai die speletjie HIER af.



Hierdie speletjie is gebasseer op die film Rio2.

Laai die speltjie HIER af.

 
Die een is gebasseer op Monsters University.

Laai die speletjie HIER af. 




Die is 'n skaakspel met Mickey Muis en sy vriende.

Laai die mannetjies en bord HIER af. 


Die bordspel is gebasser op die animasie program Phineas and Ferb.

Laai die speletjie HIER af.


Indien enige skakels nie werk nie, stel my asseblief in kennis.


Lekker speel.

Groete

Maryna