Thursday 26 November 2015

2015

Die 'skooljaar' is op sy rug en ek moet werklik myself knyp om te glo die jaar is verby.

As ek terug kyk na die jaar, skuld ek eintlik my kop. Dit was wel...ek weet nie, nie een van die beste jare wat skoolwerk betref nie. Ons het wel nie baie af geneem in die jaar soos vorige jare nie en het ongelukkig ook nie juis op uitstappies gegaan nie. 

Die jaar voel werklik nog net nie afgehandel nie. Het julle ook al so gevoel? Dit voel of ons soveel meer moes vermag het. My kinders het gegroei in baie aspekte, maar daar is nog baie ruimte vir verbetering in sommige dinge.

Met die leemte in my hart bring dit my net terug op my kniee. 

2016 Sal 'n jaar met hoop en vreugde wees. 'n Jaar vol opwinding en baie kennis, 'n jaar van ontdekking.

Met my persoonlik was dit 'n taamlike emosionele jaar met tye. My ouers het verhuis van Richardsbaai (wat sommer naby was) na Saldanha (wat nou so ver is). Ons het 'n baie spesiale familielid verloor weens kanker. Dit voel steeds onwerklik.

Met die positiewe het ons uiteindelik ons eie huis, 'n plekkie vir ons voet. Stukkie vir stukkie maak ons mooi, verf hier, plant daar.


Ek beplan om die vakansie te gebruik om 'n paar opwindende en lekker aktiwiteite saam te stel en daar is baie om te vertaal. Ek glo 2016 gaan sommer 'n donkie skop jaar wees.

Baie sterkte aan almal vir die jaar wat voorlê!

Groete

Maryna

Monday 16 November 2015

Kurrikulum vir 2016

Ons voorgestelde program vir 2016 lyk soos volg.

Wiskunde
Teaching Textbooks Math 7
(Later in die jaar oorgaan na Teaching Textbooks se Pre-Algebra afhangende hoe Teaching Textbooks vir ons werk. Huidiglik is dit 'n sukses en kinders geniet dit baie. Hul het reeds met Math 7 begin)

Engels
Fix it Grammar! Book 2 Robin Hood
Student Writing Intensive level B
Teaching Writing Structure and Style (vir my)
Spelling: Sequential Spelling

Afrikaans
Gebruik verskeie bronne om n volledige program te kan maak, bronne is:
Maak spelling maklik (daar is baie idees in om op ander werk toe te pas)
Kominpas met Afrikaans
Taal Oefenboek deur Japie Stander
Blokraaisels
HAT
Afrikaanse woord en spelreel boek
Leesboeke
Speletjies soos antonieme, idiome ens

Aardrykskunde
Aarde Ensiklopidie
Geography through art
Lewende planeet

Geskiedenis
Story of the world

Wetenskap
Verskeie eksprimente
Ellen McHenry bronne: The Elements, Botany en ander aktiwiteite van haar (ek sal Afrikaanse vertalings plaas soos ek dit vertaal het van haar gratis bronne/speletjies.)

Kuns
Bronne/idees uit Pinterest
Aktiwiteite wat gepaard gaan met lesse uit Aardrykskunde en Geskiedenis.


Rekenaar
Blender vir Matthew

Sport
Yshokkie

Daar mag moontlik nog ander bronne bygevoeg word. 

Ek sal 'n skrywe plaas oor Afrikaans en hoe 'n mens dit kan maak werk sonder om 'n formele kurrikulum (CAPS - gaap) te gebruik.

Dit is ons beplanning sover in 'n neutedop. As jy enige vrae dalk het oor enige van die, vra gerus.

Groete

Maryna

Sunday 15 November 2015

Kersfees papier aktiweite

Met Kersfees om die draai leer kinders weer van Jesus se geboorte.

Hier is 'n oulike Diorama en ander papier aktiwiteite van My little House wat die kinders kan knip en plak. Dit is meer vir die jonger kinders maar enige een kan dit geniet veral die modelle (The Nativity Story) heel onder.



Laai die patroon HIER af. 

Hier kan jul die onderstaande inkleurprent aflaai.


Kyk na die 3D papier prente wat jul kan aflaai. Hier is instruksies hoe om die prente aanmekaar te sit.


Laai dit HIER af.


Laai dit HIER af.


Laai die papier modelle hierbo by DIE skakel af.


Lekker knip en plak.

Groete

Maryna


Sunday 8 November 2015

Hoekom so stil?

Hallo almal. Die is net n kort briefie om jul te laat weet ons is nog in die omtrek. Ek sukkel met my internet en hoop om dit binne die volgende paar weke reg te stel. Ek sal sodra my sein beter is weer skrywe plaas.

Groete

Maryna

Wednesday 30 September 2015

Boekloer: Blokraaisels vir Aapsterte

'n Baie goeie en oulike manier om kinders te help met hul woordeskat en spelling is deur blokraaisels te voltooi.

My kinders geniet die boek vreeslik. Ons het na aanbeveling van Lindi Malan van Beithasefer die boek aangeskaf. Ons het egter besluit om eers boek drie te probeer.



Ek het die antwoord gedeeltes in die boek uitgehaal sodat die kinders nie na dit kan loer nie. Ons doen dit saam en die kinders kry elkeen 'n beurt om te lees en te antwoord. Ek kan al klaar 'n verbetering in hul spelling sien.


Voorbeeld uit die boek
Sodra daar iets nuuts opkom wat ons dalk nie behandel het nie, staan ons 'n oomblik stil by dit en ons bespreek dit.


Antwoorde vir elke blokraaisel
Die boek het vyftig blokraaisels in en daar is tans drie boeke in die reeks.

Opdateer Julie 2017: Blokraaisels vir Aapsterte is ongelukkig uit druk uit. Jy kan egter die boekies Blokkies vir Slimkoppies in e-formaat HIER bestel. Dit is saamgestel deur dieselfde dame wat Blokraaisels vir Aapsterte saamgestel het.

Gee dit gerus 'n kans.

Lekker leer.

Groete

Maryna

SOTW 1: Hoofstuk 9 Die eerste stede van Indië

In hoofstuk 9 leer ons van die eerste stede in Indië. Hierdie hoofstuk is een van daai wat jou absoluut prikkel met baie vrae, wel vir my het dit beslis.

Ek geniet SOTW baie, nie net om vir my kinders geskiedenis van die wêreld te leer nie, maar ek self wat tot my laaste jaar op skool geskiedenis gehad en gehaat het, so baie leer. Ek leer goed wat ek nog nooit tevore geleer het nie.

Om terug te kom by hoofstuk 9. Ons het geleer van die Indus vallei en hoe die mense daar geboer het. Hoe hul stad gelyk het en hoe hul met ander dele handel gedryf het. Die mees fassinerende deel vir my was die feit dat hierdie mense 'n drein sisteem gehad het. Toilette in die huis en alles afgeloop na 'n sentrale punt. Hoe ongelooflik is dit dat iemand hul argitektuur so beplan het.

Die hartseer van die is die feit dat niemand ooit hul skrywe sover kon ontsyfer nie. Wat het hul werklik gesê, hoe het hul werklik geleef? Wat het van hul geword? Soos ons lees van Mohenjo-Daro was die mense uitgeroei deur vyande, of hul het die plek verlaat wees dalk na 'n skielike water tekort, dalk siekte. Wie weet? Gebeentes is in die strate opgegrawe. Kan jul glo... ek wens werklik waar ek was 'n kundige en Argeoloog want ek sou baie graag wou weet wat daar gebeur het.

Die kinders het vir hulle 'huisies' gebou en Makayla het ook 'n modder baksteen gemaak.



Hoe om die bakstene van die huisies te maak met klei wat jy self aanmekaar slaan.

Wat jy benodig:
2 koppies koekmeel
1 eetlepel kookolie
1/2 koppie sout
1 koppie water
Waspapier (waarmee jy toebroodjies toemaak)
liniaal
koekroller
Gom (craft glue)

Maak so:
Gooi alles saam en roer goed deur. Knie tot jy 'n lekker bal gevorm het. Indien jou mengsel te droog is gooi klein bietjie water by, as dit te veel aan jou vingers plak, gooi nog 'n klein bietjie olie by of smeer net jou hande met 'n bietjie kookolie.
Skeur waks papier af en laat jou kind die deeg bolletjie uitrol.
Laat hul die bakstene sommer uitsny met 'n liniaal. (draai die liniaal op sy sy en druk hard deur die deeg)
As al die bakstene klaar 'gemaak' is, spuit 'n bakplaat en bak in die oond. (moet dit nie op die waspapier in die oond sit nie, sit dit op die gespuite pannetjie. Veral as jy 'n gasoond het - die papier brand)
As dit reg is, dit sal bietjie bruin wees en hard, laat dit afkoel.

Ons het dit eers probeer oornag hard word (was nog sag) voor ons dit die volgende dag in die oond gesit het. Hierdie resep is eintlik vir lekker speel deeg, wat jy net kleursel kan bygooi en in ligdigte houers bere. Maar as jy dit gou wil hard hê, bak dit maar eerder.

As die 'bakstene' hard en koud is kan die kind te verf en droog laat raak, daarna is dit reg om te bou.

Bou so:
Hier kan jou kind hul absolute verbeelding gebruik. Soek bietjie op die internet hoe die huisies gelyk het. Plak die bakstene met gom op mekaar en gebruik 'n stukkie karton vir die dak.
Hier is 'n paar oulike video's om na te kyk. Dit gee vir ons 'n idee hoe dit daar was, hoe dit gelyk het en wat die mense gedoen het.

 









Lekker leer.

Groete

Maryna

Tuesday 15 September 2015

Lettergrepe - Is dit oop of toe?

Hier is 'n kort animasie videotjie wat ek gemaak het.

Dit is my eerste poging. Laat weet my wat julle dink.




Ek het die video 'n bietjie langer gemaak soos versoek.

Groete

Maryna

Monday 14 September 2015

Hoezit! Die webwerf met breinkrag.

As jy 'n baie oulike en leersame Afrikaanse webwerf soek, gaan loer gerus na Hoezit!

Daar is die oulikste en wonderlikste leermiddels.

Die webwerf met breinkrag.

Kyk na wat julle alles daar kan leer...en nog baie meer!






Geniet dit!

Groete

Maryna

Friday 11 September 2015

Nuwe Wiskunde program?

Ek sou nooit in my lewe dink dat ek ons huidige en wonderlike Math U See program eenkant gaan skuif.

Ja ons maak klaar die jaar met MUS en gaan volgende jaar Teaching Textbooks 'n kans gee.

Maar hoekom op des aarde wonder julle seker aangesien ek net met lof van MUS praat?

Tyd! Dit het alles te doen met tyd. Alhoewel MUS fantasties is en ek dit vir enige een sal aanbeveel en my kinders baie goed doen, draai hulle stokkies. Ja regtig! Ons kyk ons les op die DVD, ek kyk altyd saam. Hulle doen dan elke dag 2 dele (4 bladsye) van die oefeninge. MAAR hulle babbel, speel met die hond ens. Nee ek is nie so streng nie, maar soms gaan tot 2 ure verby en dan is hul eers klaar. Dit beteken vir my daar is minder tyd vir ander goed. Ons kan nie elke dag so lank spandeer op net een vak nie. 


Teaching Textbooks werk op die rekenaar. En ja ek het nooit gedink ek sou die roete gaan nie. Die kinders kyk die les, die ou verduidelik baie goed en ook stap vir stap. Tussenin kry hul 'n kans om te 'antwoord' en dan daarna begin 'n paar oefeninge en dan die amptelike werk. Die rekenaar program merk alles. As hul iets verkeerd het, het hul die opsie om te kyk na die oplossing. Dit wys nie net die regte antwoord nie, maar hy verduidelik presies hoe om by dit uit te kom. Op die ouer se profiel kan sy ingaan en kyk wat het die kind alles gedoen, wat het hy verkeerd, het hy na oplossings gekyk ens.

Daar is ook 'n werkboek wat basies presies dieselfde is as op die rekenaar, dus het kinders nog die opsies om dit te gebruik maar is nie 'n moet. In die program word die som gevra en die finale antwoord moet ingetik word, dus moet die som tog uitgewerk word of in die werkboek of op 'n stukkie weggooi papier.

Ek het baie kommentaar gelees oor die program, baie is nie so beïndruk (en baie was van mense wat dit nie eens gebruik het nie - aai aai) en baie is mal daaroor. Ek moet sê almal hier in SA wat dit gebruik is hoogs gelukkig en dit maak my hart gelukkig.

Ons gaan dit 'n kans gee volgende jaar en kyk hoe dit gaan. As dit nie goed werk gaan ons terug na MUS.

Daar is oulike voorbeelde (demo) wat jy kan doen om te sien hoe dit werk op hul webblad. Ek sê altyd 'try before you buy'. As iets nie 'n voorbeeld het nie koop ek dit nie. TT begin eers van Graad 3 af.

Dit is nie 'n goedkoop program nie, veral as jy dit van oorsee bestel. Ek het egter 'n tweedehandse kopie gekoop. 

Ek sal julle volgende jaar op hoogte hou van ons amptelike ondervinding met die program.

Groete

Maryna
 

Tuesday 25 August 2015

Knutsel met Skribbel masjiene

In my vorige skrywe het ek julle bekendgestel aan die die konsep om te knutsel. Daarna het ons afgeskop met die elektriese stroombaan aktiwiteit. Vandag wys ek vir julle hoe om skribbel masjiene te maak.


Verskeie van ons skribbel masjiene
Hieronder is 'n paar video's om te wys hoe ons masjiene beweeg het.






Wat jy alles benodig:
- Bakkies of glasies (enige iets wat nie te swaar is nie)
- Baie velle papier
- Maskeer band
- Kryte of koukie penne
- 'n battery
- 'n motortjie (die tipe wat 'n mens in speelgoed aantref) (maak seker dit het 'n positiewe en negatiewe draadjie aan)
- 'n stukkie gomgeweer stafie (of iets om te gebruik as 'n gewig sodat die motor kan vibreer)
- Opsioneel: pyp skoonmakers, ogies - enige iets om kreatief mee te wees.
Maak so:
- Plak die kryte of penne aan die glasie of bakkie vas met maskeer band. Jy kan enige hoeveelheid gebruik.
- Plak die battery teen jou glasie/bakkie vas.
- Sit vir jou motortjie 'n gewig aan - sny 'n stukkie van die gom stafie, maak 'n gaatjie in. Maak seker die gaatjie is nader aan die een kant as die ander kant sodat die gom nie in gelyk is aan albei kante nie. Druk die gom stafie in die lang deeltjie van die motortjie.
- Plak die motortjie aan jou glasie/bakkie vas. - Jy kan dit enige plek plaas solank dit kan vibreer, op die kante vibreer dit gewoonlik meer. Jy kan self die motortjie onder vasplak dat die glasie/bakkie daarop hop.
-Plaas die velle papier op 'n tafel, so groot as moontlik aangesien die masjiene wild rond hardloop en krap.
- Plak die negatiewe en positiewe dele aan jou battery vas en laat jou masjien hardloop.

Met die aktiwiteit moet jy die kinders vry laat ontdek. Die moontlikhede is eindeloos.

In die volgende knutsel inskrywing gaan ek vir julle wys hoe om naaldwerk stroombane te maak.

Lekker leer en speel.

Groete

Maryna

Tuesday 11 August 2015

Knutsel met Elektriese stroombane

In my skooldae het ons formeel van stroombane geleer. Die juffrou het die demonstrasie gedoen en ons moes die diagramme teken en al die betekenisse skryf en leer. Klink opwindend nê! Nee nie regtig nie.

Wat as...



Wat as jy vir jou kind komponente kan saamstel wat tot die jongste peuter kan gebruik om te leer hoe elektriese stroombane werk. Sonder dat jy enige insette gee, gee jy jou kind die geleentheid om te beproef en te toets hoe 'n gloeilampie werk en ook 'n skakelaar ens.



Wat jy alles benodig:
- Houtblokkies
- Spykers (geleibaar)
- Soldeerbout
- Krokodil knippies (rooi en swart)
- Gom geweer
- Verskeie batterye 
- Battery houers
- Gloeilamp houers
- Gloeilampies (die wat jy in 'n flits gebruik)
- Gonsers (buzzers)
- Skakelaars
- Enige ander komponente - opsioneel (waaiertjies, verskeie skakelaars, motortjies, ratte wat beweeg ens)

Verskeie komponente en benodighede
Maak so:
Houtblokkies:
Sny houtblokkies groot genoeg om afsonderlike komponente daarop vas te kan sit. (Ek het afval hout stukkies gebruik.) Jy kan 'n handsaag of elektriese saag hiervoor gebruik. Skuur die kante sodat daar geen skerp dele is en om van enige splinters ontslae te raak.

Sit komponente op die blokkie:
Battery houers: Jy kan die battery houer op die houtblok vas skroef. Die enkel battery houers het slegs een gaatjie, ek het dus net een skroef gebruik. Die vier battery houers het vier gaatjies, twee-twee bymekaar, ek het slegs 2 skroewe gebruik, een aan elke kant. Alternatief kan jy die battery houer met 'n gom geweer aan die houtblok vas gom. Slaan twee spykers 'n entjie uit mekaar in die houtblok in. Ek het nuwe plafon spykers gebruik. (My eerste poging met ou gewone spykers was nie suksesvol.) Draai die oop draadjie gedeelte om die spyker en soldeer die draadjie aan die spyker vas. Maak seker daar is behoorlike konneksie teen die spyker om te verseker dat die krag daardeur kan vloei. Plaas nou gom waar die draadjie op die houtblok lê om te verseker alles bly mooi in plek. (sien foto hieronder)



Ander komponente: Alle komponente sal op die blokkie gesit word met of 'n skroef of teen die blokkie vas gegom word. Dit sal presies dan verder vasgesit word soos bo verduidelik. Neem kennis die gloeilamp houers wat ek het is wat ek in die hande kon kry, daar is ander wat slegs met 'n skroefie vas gesit kan word aan die blokkie. Indien jy van die soort het wat ons het, sit dit vas met 'n skroef en slaan die spyker teen die metaal plaat vas sodat daar 'n konneksie kan wees.

Die kind kan met die krokodil knippe die komponente met mekaar verbind. Die doel van die aktiwiteit is om NIE (die ouer) die stroombane vir die kind te bind nie. Dit is slegs jou verantwoordelikheid om alle komponente saam te stel.



Die knutsel aktiwiteite met die stroombane kan kinders van enige ouderdom doen, selfs kleintjies. Die kinders geniet dit baie. Moet nie sommer inspring en met jou eie hande wys nie, jy kan slegs met jou mond voorstelle maak. Laat hulle verskillende skakelaars probeer en ook waaiertjies aansit ens.

Neem kennis:
Gloeilampies: Maak seker wat die volt sterkte van jou gloeilampie is, moet nie meer as een battery wat 1.5V is op 'n gloeilampie sit wat ook slegs net 1.5V is nie, jy sal dit blaas. Indien jou gloeilampie 3.5V is, gebruik dan twee batterye ens.
Skakelaars: Indien jou skakelaar meer as een posisie het is dit belangrik om te onthou daar is altyd net een negatief op die skakelaar en die res is almal positief.

Ek het 'n multimeter (multitester) by my man gekry. Dit het my baie gehelp om te toets of al my komponente kontak het op die spykers. Dit is nie 'n moet item nie.

Wenk: Neem jou tyd met die aktiwiteit en ook om die komponente bymekaar te sit. Toets eers alle komponente voor jy dit vir jou kind gee om mee te werk. 

Neem dit verder: Indien jou kind vertroud is en voel hy/sy het genoeg dae met dit spandeer leer hulle hoe om stroombaan diagramme te maak. Laat hulle 'n spesifieke stroombaan bou en dit dan te teken. Verduidelik hoekom wat gebeur of hoekom nie. Leer vir hulle die simbole ens. 

'n Woord oor soldeer: Dit was my eerste keer dat ek self gesoldeer het. Dit neem geduld en oefening. Ek is tans in die proses om 'n kort Strokiesprentboek in Afrikaans te vertaal wat wys hoe om te soldeer. Ek sal dit plaas sodra ek klaar is.

Ek hoop julle geniet die aktiwiteit soveel soos wat ons dit geniet. Indien julle enige vrae het, vra gerus en deel julle ondervinding met dit.

In die volgende knutsel inskrywing gaan ek vir julle wys hoe om skribbel masjiene te maak. Dit is vet pret vir die kinders!

Groete

Maryna

Tuesday 4 August 2015

Om te knutsel

Die woord knutsel mag moontlik vreemd wees vir sommiges. Meeste ken dit maar as die Engelse woord Tinker.

Nou wat presies is knutsel en hoekom is dit so belangrik?

Knutsel gee jouself en jou kinders die vryheid om te kreatief te raak, om 'n oplossing te vind vir moontlike struikelblokke, om te leer terwyl hul met hul hande werk. Hul leer om hul verstand te gebruik en toe te pas wat hul ontdek of leer het.

Kom ons neem die Disney karakter Tinkerbell vir 'n oomblik, sy Tinker, sy skep, maak iets uit niks.

Stel jul skooldae so voor: Wiskunde werkboek, taal werkboek, Wetenskap - vul hier, kyk 'n video daar, ma wys en hulle sit en gaap. Dit geld vir menigte vakke.

MAAR stel jouself nou dit voor: Jul haal 'n boks uit die kas vol verrassings. Dit is nou natuurlik as jy nie reeds 'n knutsel ruimte het nie. Binne is daar draadjies, batterye, liggies, ratte, wieletjies, waaiertjies en nog vele meer. Jou kinders se oë rek van opgewondenheid.

Hulle pas en toets en speel. Dit werk saam, dit werk nie saam nie, dit kan so beweeg en dit hop op en af. Ma antwoord net nou en dan as die kind 'n vraag vra. Baie belangrik ma help nie, ma bou nie. Ma kyk hoe haar kinders ontdek en skep.

Nie net kan knutsel gebruik word in Wetenskap nie, maar hul kan ook Wiskunde daaruit leer, of Aardrykskunde of self hul taalvermoë uitbrei en opbou. Knutsel stel hul in staat om 'n wye spektrum van dinge te leer sonder dat hul besef hul leer.

In die Ted video hieronder wys die kunstenaar CH Huang wat hy alles met sy geknutsel maak.


Dit klink en lyk opwindend!

In my volgende inskrywing gaan ek jul wys hoe om basiese elektroniese komponente saam te stel vir die kinders om mee te knutsel. Dit gaan vet pret wees.

Groete

Maryna

Friday 24 July 2015

Deurbraak in lees

Baie Tuisonderwys ouers se grootste kommer is gewoonlik hul kind se vaardigheid om te lees.

Ek wil graag ons storie met julle deel.

Albei my kinders het taamlik vroeg begin leer lees (probeer). Iemand het eendag vir my gevra hoekom laat ek hulle elke dag lees? Dit het vir my ongelukkig slegte gevolge gehad. Ek was baie hard op hulle en wou net hê hul moes suksesvol wees.ROOI VLAG!!



Makayla was die voorloper, sy het fantasties gelees. Matthew het baie gesukkel. Voor ek my oë kon uitvee het Matthew skielik goed gevaar. Ek het met 'n skok terug aarde toe geval nadat Makayla eendag vir my voorlees en basies nie kon lees. Dit was asof sy jare se stappe terug gegee het. Ek kon dit nie verstaan nie. Hoe kon my kind nie lees nie?

Ek het 'n goeie vriendin genader en sy het met my meegedeel dat Makayla 'n lees blok het. Ja kan jul glo daar is so iets. Lees blok kan gebeur deur twee redes. Die persoon word te veel gedruk en is onder stress of as gevolg van 'n emosionele situasie. ROOI VLAG!

Ons het die lees net eenvoudig laat staan. Ja, ek het vir hulle voorgelees en nie dat hulle vir my enige iets voorlees nie. Stadig maar seker het hulle weer ietsie begin lees. Dit was moeilik vir Makayla alhoewel sy baie daarvan gehou het. 

Elke aand lees Makayla haar Bybel. Die Bybel@Kinders die een met altwee vertalings (uit druk uit). Sy het altyd baie hulp gevra met die woorde. Ek het haar hier en daar gehelp maar vir haar gesê as sy dit mooi hardop spel en in lettergrepe opdeel, sal sy weet wat dit is. Matthew het haar natuurlik baie gehelp.

Met hul Math U See lesse lees hul self hul woordsomme. Sukkel-sukkel het Makayla probeer aangaan met die somme wat sy dit nie wou en kon lees, ma het maar altyd ingespring en gelees.

Skielik uit die bloute lees sy haar sinne vlot. Ek is uit die veld geslaan en so gelukkig soos wat kan kom.

Wat leer ek hier uit. Leer die kind lees wanneer hulle reg is. Moet hul NIE druk nie. Hul sal daar kom een of ander tyd.

As jou kind sukkel, maak eers seker jou kind ken al hul klanke goed. Stel lettergrepe bekend en leer woorde so aan. Vat dit dag vir dag, bietjie op 'n slag. Gebruik 'n boek wat hulle baie geniet. Vir Makayla was dit haar Bybel want sy wou meer weet en dit is geskryf spesiaal vir kinders. Vir iemand anders kan dit dalk 'n strokiesprentboek wees. Begin eers as jy sien jou kind is reg daarvoor.

Ek hoop werklik iemand kan baat uit ons ondervinding.

Groete

Maryna

Tuesday 21 July 2015

Uit 'n Tuisonderwys moeder se pen

Marelize Keyter, veteraan Tuisonderwys moeder het die skrywe vandag op die Tuisonderwys yahoo forum geplaas. Met toestemming plaas ek dit hier.

Dit is vir almal wat nuut is in Tuisonderwys. 


"Gereeld sien ek hierdie opskrif op die e-poslys.

Gewoonlik met vrae en stellings soos: Ons is nuut in tuisonderwys. Moet ons registreer? Watter kurrikulum moet ons koop? Watter is die beste Afrikaanse kurrikulum? Ens...

En ek wag vir die antwoorde op hierdie vrae.

Want sien, na meer as 10 jaar op die pad van tuisopvoeding (en dis maar betreklik kort, daar is ander gesinne wat my jare voor is) het ek die hele sirkel voltooi...maar genadiglik darem nie oorweeg om die kinders terug te sit in die skool nie!

Dit bly interessant om te sien hoe ander ouers raad vra, dit kry en in die wind gooi. Maar miskien is dit juis daardie eiewyse wegdraai en self koers kies wat TO anders maak.

Ons besef "iets" is fout in die hoofstroom-skooltipe onderwys, maar ons kan om de dooi dood nie daarvandaan wegbeweeg nie. Ons klou erger as 'n neet aan 'n kleuterkop.

Ongeag hoeveel veterane aan nuwelinge verduidelik dat kurrikula die allerlaaste ding is waaroor jy jou moet kwel, dit bly die nr 1 vertrekpunt. So asof die kurrikulum aan jou vastigheid in 'n totaal onseker veld en wêreld sal gee. Dan ruk ma pa se tjekboek uit, laat die kredietkaart sing en binne minute is R20 000 van bank verwissel....maar geen waarborg vir enige leer, onderwys en veral opvoeding is gegee nie. Geen.

Die indrukwekkendste kurrikulum kan op die rak staan en stof vergader, gewoonlik omdat dit vir 'n skoolsituasie geskryf is. Ekself het al na kurrikulums gekyk en gewonder watter graad ek as ouer nodig het om  enigsins te verstaan wat van my verwag word. Dit is doodeenvoudig nie prakties vir 'n huisgesin met kinders van verskillende ouderdomme, belangstellings en leerfases nie. Dis absurd.
Die gesinsdinamika het nie verander in 'n skoolklaskamer nie. Die telefoon lui, die rys brand, die tuinjong het sy toon met die grassnyer bygekom, Liesbeth daag nie op nie, dinge gebeur. En as pa van die huis af werk, soveel te meer. Hiermee het geen kurrikulumskrywer tred gehou nie, want nie een van hulle het tuisonderwys gedoen nie, bloot onderwys.

En eerlik, 'n onderwyser verstaan nie die "werklike" lewe nie. Hulle opleiding en realiteit is bloot klaskamers. Verwaterde, kliniese, stukkies van die werklike, kleurryke en aksiebelaaide, polsende lewe.

Hoekom wil ouers dan hul kinders, wat hulle juis nou uit die skool gehaal het, terugsit in 'n miniatuur laboratorium?

Leef die lewe!!

Gebruik die lewe as kurrikulum. Benut elke dag se onbenullighede as leergeleenthede. Stap op 'n koue wintersoggend uit en blaas in die lug. Let op hoe "rook" die hele gesin. Gesels oor waterdamp, kook die ketel en let op die stoom. Hang wasgoed op en los die raaisel oor waar die water heengaan op. Plant saadjies, laat bone oornag in water opswel, spit erdwurms uit. Hou 'n jagspinnekop dop, besoek 'n plaas, die winkels, die biblioteek, hospitaal, brandweer, poskantoor, bank. Leer jou kinders hoe om met geld te werk, laat hulle bak en brou. Leef bloot jou lewe...dis al wat regtig nodig is. Dis kurrikulum genoeg.

Lees, lees en lees. Verryk jou kind se verbeelding, verbreed hul woordeskag en algemene kennis. Vergeet daarvan dat hulle op 6 self moet lees, dis belaglik. Lees eerder self goeie opvoedkundige boeke (Better late than early, deur Raymond en Dorothy Moore; How children Fail en ook How children Learn, deur John Holt; Om seuns groot te maak deur James Dobson) en staan verstom voor die almag van ons Skepper wat die vermoë tot leer in elkeen geplant het, en elkeen individueel tot wasdom lei. Geen twee kinders ontwikkel teen dieselfde tempo of leer enigiets op dieselfde moment aan nie. Jy gaan jou kinders 'n groter onreg aandoen deur hulle te vroeg te druk.

Lees hardop voor. Verbreed horisonne, breek onbekende wêrelde oop en verryk hul karakter.
Gooi weg: TV, videos, rekenaarspeletjies (veral die opvoedkundige tipe), dank die bediende af en laat die kinders verantwoordelikheid in die huis aanvaar.

Ek het aan die begin gesê dat ek die sirkel voltooi het.... ons het. Kurrikulum regdeur tot volbloed "unschooling".... en ons kinders het die meeste geleer die moment toe ons opgehou het om vir hulle te wil leer.

Kinders leer vanself. Maar net wanneer ouers terugstaan en hulle toelaat om self te leer.
Raak self stil, en gaan dink baie mooi na oor wanneer jy werklik iets geleer het.

Groetnis
Marelize Keyter
Tuisopvoeder sedert 2005, ma van Leticia (20, GED en Montessori-opvoeder), Henry (18, GED en aspirerende student), Johan (13) en André (11). Boervrou, wiskunde ekstra-klas tannie en passievol oor TO."

Ek kon nie dit beter gestel het as Marelize nie. 


Groete

Maryna

Nuwe kwartaal skop af

En so het die nuwe kwartaal afgeskop.

Ons het getrek, ons is rustig in ons eie huisie. Sondag hardloop ek toe rond en kry bokse uit die motorhuis om ons boeke, potlode, penne ens bymekaar te skraap. Die kas het net soveel plek, waar pak ek alles, wat kies ek, wat sit ek eers terug in 'n boks? My kop het behoorlik gedraai.

Hier sit ons en doen Wiskunde en taal by die eetkamertafel en op die bank. Ons het nie 'n skoolkamer en alles voel net nie lekker vir my. Ek soek my plek, my plek waar ek op 'n witbord vir die kinders kan verduidelik, goed skryf, dinge daarteen plak. Waar sit ek die skeppings?

Ja ek neem baie die rol van juffrou in, my kinders hou van orde, hulle hou van ma wat saam leer.

Lui lui begin ons die nuwe kwartaal, ek het baie planne ja, maar vir die week sleep ek nog die voete.

Verder plant ons blomme en plante uit, ontdek plante en bome se name, bekyk die tuin, voer die magdom voëls wat hul ete kom haal. Ons leer om ons papier, plastiek en karton te hernu en geniet net die lewe.

Is dit nie wonderlik om te Tuisonderwys nie ;)

Groete

Maryna

Monday 13 July 2015

Blender 3D Skeppings: 2

Ek het 'n geruime tyd terug vir julle vertel van Matthew se Kreatiewe 3D Skeppings

Ek deel graag nog 'n paar skeppings wat hy ontwerp het. Daar is nog vele meer.


 Vliegtuie, motorfietse, skaak, masjiengewere en 'n yskas. Van die fototjies het afgesny, die yskas was 'n versoek van iemand ;)

Die motorfiets heel bo regs was deel van 'n klas, die res alles sy eie skeppings.

Lees gerus my vorige inskrywing as jy meer van Blender wil weet en hoe jou kinders klasse kan neem.

Groete

Maryna



Sunday 21 June 2015

My kunstige lewe

Ons as Tuisonderwys moeders het soveel meer in ons as net ons kinders te leer.

Wat sommiges dalk nie weet van my is dat ek ook 'n vryskutskrywer, vertaler en kunstenaar is. Die kunste is 'n baie groot deel van my lewe. Ek skilder in olie, aktriel en waterverf. Ek teken ook met pen & ink en potlood, werk met pastelle en ook waterverf potlode. 'n Keer of wat ook 'scratcboard' probeer.

Hieronder is 'n kykie na van my tekeninge wat ek in Pen en Ink gedoen het.



Hieronder is 'n paar van my waterverf skilderye wat ek geverf het.



Hieronder is 'n paar van my olie skilderye wat ek geverf het.



Hieronder is 'n paar van my potlood sketse.


Om kuns goed te kan beoefen het jy baie oefening nodig, teken elke dag, werk aan tegnieke. As jy ernstig is oor kuns, belê in goeie kwaliteit produkte, dit geld vir alles, van verf tot potlode tot die papier. 

As jou kinders baie belangstel in kuns, laat hul eers met studente kwaliteit materiale werk en soos hul vorder koop vir hul beter kwaliteit goedere. Kuns is nie 'n goedkoop aktiwiteit nie, maar dit is werklik elke sent werd. 

Groete

Maryna

Monday 15 June 2015

Nuwe hoofstuk

Ons is die laaste paar weke stadig maar seker besig om al ons laaste besittings in te pak. 

Wel eintlik kan ek nie regtig sê stadig nie want meederheid is al weke gelede gepak. Bokste staan die huis vol en dit lyk behoorlik woes.

Ons verhuis die 25ste na ons eie huis. Ons eerste huis wat ons eie is. Dit is natuurlik my (ons) grootste droom wat waar geword het. Na baie jare se bid het dit uiteindelik waar geword.

Ons is al meer as 7 jaar in Durban (area) en het al menigte kere getrek waarvan ons verlede jaar in 3 verskillende huise gewoon het. Die trek na ons eie huis is absoluut 'n nuwe hoofstuk in ons lewens.

Ons het uiteindelik 'n holte vir ons voet, 'n tuiste, 'n plek waar die kinders kan weet daar is altyd vir hul heenkome.

Ek sien uit na die nuwe hoofstuk. God is so goed vir ons, elke dag kan ons net vir Hom dank vir al die seëninge wat Hy oor ons bring. 

Hou altyd aan bid en glo...God antwoord op Sy tyd!

Groete

Maryna

Monday 1 June 2015

Klank aktiwiteite

Sien klank

Hierdie klank aktiwiteite het ons 'n paar jaar gelede gedoen.

Ek het vergeet om 'n foto van die eerste een te neem maar onder is 'n prentjie om vir jul 'n idee te gee.

Wat jy benodig:
'n Bak, plastiek, rekkie, kleefband, 'n paar ryskorrels, 'n pot en 'n houtlepel.


Foto bron: Sound - tune into sound and see the way it works by Steve Parker


Maak so:
Nes in die foto hierbo, plaas die kleef plastiek oor die opening van die bak, hou dit in plek met die kleefband en rek 'n rekkie oor die bokant van die bak. Plaas 'n paar ryskorrels bo op. Neem die pot en hou die naby die bak, slaan met die houtlepel op die pot.

Wat gebeur:
Die houtlepel wat op die pot geslaan word veroorsaak klankgolwe. Die klankgolwe laat die plastiek vibreer en die ryskorrels spring op en af.

Die eksperiment wys vir ons hoe 'n oordrom werk. Klank gaan binne die oordrom wat dan vibreer en so hoor ons die klanke om ons. 

Skiet met klank

Wat jy benodig:
'n Toilet rolletjie; plastiek, rekkie, stukkie karton, stukkie papier.

Maak so:
Knip die karton rond (net so groot soos die rolletjie se opening). Maak 'n gaatjie in die karton. Met kleefband plak die stukkie karton aan die toilet rolletjie vas. Op die ander punt, trek die plastiek oor die rolletjie vas met die rekkie soos in die foto. Plak 'n stukkie papier op 'n tafel oppervlak vas. Maak seker 'n langer strook staan regop soos in die foto. Hou die rolletjie taamlik naby die papiertjie en skiet die plastiek deel van die rolletjie met jou vinger.

Wat gebeur:
Die klankgolwe kompak en beweeg deur die rolletjie en uit by die gaatjie in die karton. Die golwe slaan teen die papiertjie vas en veroorsaak dat die papiertjie agtertoe buig.

Alternatief: In plaas daarvan om 'n papiertjie te gebruik, kan jul 'n kers gebruik wat aangesteek is. Die klankgolwe sal die kers dood blaas.

Hoor klank

Wat jy benodig:
'n Dun plastiek pyp, 'n tregter en kleefband.

Maak so:
Maak 'n stetoskoop
Plaas die tregter binne in die pyp se opening en plak dit stewig vas met kleefband. Maak seker dat geen lug ontsnap nie. Ons het dit oorspronklik met die pyp soos in die foto gedoen, maar met 'n volgende keer 'n langer en dunner pypie gebruik wat beter gewerk het.

Wat gebeur:
Wanneer jy die tregter op die kind se bors plaas kan die hartklop duidelik gehoor word, nes 'n dokter na ons harte luister. Die klankgolwe van die hartklop versamel in die tregter en beweeg in die pyp af na die oor. 


Luidspreker
Wat jy benodig:
'n Groot vel karton en kleefband.

Maak so:
Rol die karton soos in die foto en plak dit vas met kleefband sodat dit nie uitrol nie.


Luidspreker


Wat gebeur:
Die 'horing' neem al die klank op en voor dit vrygestel word, versterk die klank vorentoe wanneer daardeur gepraat word. Wanneer jy daarin luister gaar al die klank in die oop kant en beweeg vorentoe na jou oor.
 
Stembande vibreer en vorm klanke wanneer die lug uit jou longe gestoot word.

Lekker leer.

Groete

Maryna

Tuesday 26 May 2015

Aanstuur van bronne

Ek wil graag 'n versoek doen aan almal wat my blog lees, volg en dalk net inloer vir hulpmiddels. 

Indien jul van die goed wil gebruik wat ek gemaak of vertaal het, vra ek dat julle dit asseblief van my blog sal aflaai. Indien jul vir iemand anders wil gee, verwys hul terug na my blog om dit af te laai.

Dit neem baie tyd om goed op te stel en toestemming te kry om die vertalings te doen ens, moet asb dus nie die hulpmiddels elders berg of deurstuur as jou eie skeppings nie.

Dankie vir die samewerking.

Groete

Maryna

Thursday 30 April 2015

Gunstelling kurrikulum wat werk!

Ek het in die jare wat ons Tuisonderwys werklik al baie boeke aangekoop. Sommiges was goed, sommiges nie so goed. 

Ons het ook al 'n paar verskillende kurrikulums probeer van verskeie buitelandse verskaffers. Ek deel graag ons gunstelling en beste beleggings wat ons nog gemaak het.

My top twee gunstellinge is Math U See Wiskunde program en Fix It! Grammar van die IEW (Institute Excellence in Writing).

Hoekom is hierdie gunstellinge? Want dit werk! My kinders is elke dag opgewonde om albei hul Wiskunde en Grammatika werk te doen. Hulle leer daaruit, bou daarop en onthou dit. Die vrugte word gepluk van albei die programme, ek sien hoe hulle vorder. Daar was nog nie een dag waar ons wou hare uit ons koppe trek oor enige van die vakke nie.

Dink hieroor:Daar is so baie programme wat oulik is, die kinders kan dit getrou elke dag doen. Eendag probeer jul weer terug gaan na iets wat 'n ruk terug behandel was en dan onthou hul niks. Dit is die laaste ding wat enige ouer wil hê. Daai vaslegging van iets is so belangrik. Daarom geniet ons MUS en Fix It so baie, want hulle onthou alles.

Ek moet erken ek self leer ook so baie met die programme.

Die aankoop kostes is gewoonlik prysig, maar dit is elke sent werd. MUS kan aangekoop word deur Oikos wat in Howick is. Hul lewer sommer binne 'n paar dae by jou deur af. Fix it moet jy egter van oorsee bestel. Gee jouself meer as 'n maand. Ek het die hele reeks op een slag bestel om posgeld te bespaar. 

Ons probeer soveel as moontlik om nie heeltyd boekwerk te doen nie, maar te leer deur te ontdek en dieper in verskillende onderwerpe te delf. Ons maak ook baie gebruik van speletjies, allerhande soorte. Dit sluit taalwerk in ;)


Wat is julle gunstelling? Gesels laat ons hoor :)

Groete

Maryna

Boek: Papier vliegtuie

Na 'n besoek aan ons plaaslike Bargain Books het Matthew hierdie oulike boek gesien oor papier vliegtuie. Nes enige seun wil hy net goed bou en maak. As dit van papier is, nog beter.

Die boek is baie eenvoudig saamgestel. Dit begin met die basiese stap vir stap voue. Dit beweeg aan na meer ingewikkelde vliegtuie. Agter in die boek is daar speletjies wat jy met die vliegtuie kan speel. Daar is verskeie bladsye met pragtige gedrukte patrone wat hul kan uitskeer om die vliegtuie mee te bou.

Alles wat benodig word is in die boek. Indien jou kind jonk is en nie kan lees nie, is dit nie 'n probleem aangesien alles met prentjies aangedui word. Die ouer kan die speletjie instruksies vir die kind voorlees. Die boek is werklik 'n fees vir enige seun of dalk dogter ;) 

Basiese voue
Verskeie speletjies wat gespeel kan word.



Papier om die vliegtuie mee te bou.



Van die items wat in die boek ingesluit is.


Die boek is 'n oulike geskenk idee. Daar was 'n groot verskeidenheid boeke van papiervliegtuie, hierdie was die een wat ons egter nou gekies het. Gaan loer bietjie by Bargain Books, daar is oulike boeke. 

Geniet dit!

Groete

Maryna