Friday 24 January 2014

Klank vaslegging met flitskaarte

Klank vaslegging kan soms moeilik wees vir kinders veral as hulle net in 'n boek die oop spasies moet invul. Daar is nie werklik vaslegging nie, net herhaling van bewegings. 

Ek het gevind met my eie kinders as hulle bladsye vol moet invul hier en daar raak hulle baie negatief teenoor taalwerk. Dit is darem so vervelig. Daar is geen geheim dat daar werklik 'n tekort is aan lekker 'goed' vir taalwerk in Afrikaanse veral vir Tuisskolers. 

Op Juffer Juffrou se blog is daar baie oulike aflaai bladsye. Kyk hier is die flitskaarte vir die dubbleklanke, tweeklanke ens. Hier is ook 'n artikel met idees hoe om hersiening te doen van klanke.

In die foto hieronder is die flitskaarte wat ek van Juffer se bladsy afgelaai het. Ek het dit gelamineer en hou alles saam in 'n plastiek houer. 



Ons gebruik nie net die kaartjies om bloot klanke te leer nie, maar hulle leer ook lees en spel op hierdie manier.

Ek vra hulle eers wat is bv. 'n 'eu' klank. Hulle moet dit vir my opbreek en die regte fonetiese klanke daarvoor sê. As hulle dit nie reg het nie, gee ek vir hulle 'n voorbeeld - 'eu - soos in deur' ens. As hulle dit reg het dan wys ek vir hulle die flitskaarte een vir een. Hulle moet elke woord vir my sê. Langer woorde kan hulle opbreek in lettergrepe om die korrekte woord te kry.

Soos ons deur die woorde gaan vra ek ook vir hulle om of  'n sin met die woord te maak (mondelings) en ook om dit te dramatiseer (hulle geniet dit vreeslik). Hulle moet ook vir my sê wat 'n woord beteken. As 'n woord meer as een betekenis het moet hulle dit vir my sê of ek vertel hulle. Ek vra altyd eers wat dink hulle beteken 'n woord voor ek vir hulle die regte antwoord gee. Daar is vir my niks ouliker om hulle antwoorde te hoor nie.

Ek vertrou dit kan vir julle 'n idee gee waar om te begin met klank vaslegging. Dit kan natuurlik ook saam met letterkaarte gebruik word om die woorde te bou en so ook hulle spelling te oefen.

Lekker leer.

Groete

Maryna
 


0 comments:

Post a Comment