Thursday 3 February 2022

Groot veranderinge - begin 2022


Ek het amper 'n jaar gelede laas met julle gesels en vertel waar ons is. Alles het verander en niks is soos ons beplan het nie.

Matthew en Makayla het albei hul GED in Oktober 2021 geslaag. Albei het hul leerlinglisensies geslaag. Matthew het sy lisensie gekry en ook sy eie klein motortjie gekoop.

Albei het presies dieselfde dag werk gekry en presies dieselfde dag begin werk in November 2021. Hoe groot is ons God nie! 

Matthew het tans net 'n tydelike pos by 'n skool as 'n onderwyser assistent. Hy wag vir 'n opening om 'n ambag te begin as 'n Vibrasie Analiseerder. Nou wonder julle seker wat het van sy ontwerpe geword? Alhoewel dit sy hartklop was, het hy goed gedink om eers iets formeel agter hom te kry. Of hy weer gaan terug keer na sy ontwerpe weet ek werklik nie.

Makayla het 'n administratiewe pos gekry by 'n baie groot motorhandelaar. Sy begin egter baie binnekort met deeltydse studies as 'n 'Chartered Secretary'. Sy gaan deur SACOB studeer. Nou wonder jul wat het van die Au Pair geword? Sy het tot 'n besef gekom dat sy nie werklik met kinders wil werk nie. Sy wil net reis. Sy sal dus spaar en reis soos dit moontlik is. 

En ek...wat doen ek nou? Ek skilder steeds. Ek gaan egter my voltydse skilder loopbaan moet skuif na deeltyds. Ek is tussen in geskei wat baie implikasies vir ons familie veroorsaak het. Ek glo en vertrou ek sal eersdaags begin met 'n permanente vaste kantoor pos. My hoop is om eendag weer voltyds te kan terug keer na my skilder loopbaan. 

Ek is ongelooflik trots op Matthew en Makayla. Hulle is deur baie die laaste paar jaar. Hul het sterk gestaan en was en is steeds groot steunpilare vir my. Hulle is jong mense met baie mooi harte en ek kon vir niks meer gevra het nie. Hulle is my hartklop.

Die lewe draai nie altyd uit soos ons beplan nie. Hou vas aan jou geloof en God. 

Tot volgende keer.

Groete

Maryna

Tuesday 23 March 2021

Waar is ons in 2021

Dit is drie jaar vandat ek laas 'n skrywe hier geplaas het.

Ek het dit goed gedink om net bietjie vir julle te vertel wat in ons lewe aangaan en waar ons nou is en hoe dit met die kinders gaan.

Ons het verhuis vanaf Amanzimtoti na Johannesburg in Julie 2019. Dit was ongelukkig nie ons besluit maar onstandighede wat ons gedwing het. Ons lewe het drasties verander, maar die kinders het voort gehou met hul skoolwerk. Ongelukkig kon hul nie voortgaan met die yshokkie nie.

Albei my kinders doen hierdie jaar hul GED - Amerikaanse kwalifikasie wat gelykstaande is aan matriek. Matthew word volgende week 18 (*snik snik* waar het die tyd gegaan). Hy het reeds sy eerste vak (Wiskunde) se eksamen gaan skryf en dit geslaag. Soos hy reg is gaan hy sy volgende vak skryf. Makayla skryf egter eers in Mei haar eerste vak aangesien sy dan oud genoeg is om te gaan skryf. 

Hul leer tans ook vir hul leerlingslisenses (*groot snikke*). En Matthew sal ook binnekort sy rybewys toets gaan doen. 

In geval jul gewonder het waarmee hou hul, hul nog besig. Matthew doen nogsteeds die 3D modelling op Blender en beoog om 'n vryskut loopbaan daarvan te maak. Makayla is besig om Digitale Illustrasies en ontwerp te leer, sy wil ook graag 'n loopbaan daarvan maak. Sy gaan egter na sy al haar eksamens voltooi het eers bietjie by 'n skool of kleurterskool werk aangesien sy dan wil gaan Au Pair. Eers na die VSA en dan Europa.

12 Jaar se tuisonderwys - wow! Ek moet myself amper knyp om te glo die 12 jaar is verby. As ek terug dink hoeveel ure ek gekommer het oor wat volgende, wat moet hul nou doen, maar wat van matriek en en. Moet ek eerlik vir julle vertel amper al die kommer was verniet en die opoffering was beslis die moeite werd. 

Die pandemie het almal gedwing om hul kinders by die huis te laat skoolgaan. Ek wil net egter dit noem. Daar is 'n baie groot verskil tussen Tuisonderwys en Aanlyn skool of dan skool by die huis. Ek wil werklik naar word as mense kla oor hul nou hul kinders moet help met hul skoolwerk en hul wens skole was aan die gang en en. Mense besef nie watter voorreg hul gehad het om daai tyd saam hul te kon spandeer.
Vir ons was die pandemie net nog 'n dag, nog 'n maand. Niks in ons lewe het verander wat skool betref. Ons is so bevoorreg om met gemak in die tyd te kon voortgaan. En ek verwys glad nie na geld, dit is 'n hele ander kopseer.

Tuisonderwys is 'n baie groot opoffering. Jy moet weet jou tyd en lewe is vir baie jare nie meer joune. Die tyd wat ek saam met my kinders kon gehad het sal ek vir niks in die lewe verruil nie. Ek voel so bevoorreg en trots om hul ma te wees. Ek is ook trots op die grootmense wat hulle word het.

Dit gaan baie hartseer wees die dag as my kinders nie meer saam my in die huis is. Hulle is my absolute lewe.

So mamma/pappa geniet elke oomblik. Geld is noodsaaklik, maar aandag en tyd saam met jou kinders is die beste geskenk ooit.

Hou God eerste en vertrou altyd op Hom!

Laat hoor van julle en waar is jul in jul Tuisonderwys avontuur?

Groete

Maryna

Monday 8 January 2018

Welkom 2018

Welkom in 2018. Watter nuwe avonture gaan die jaar vir ons almal in ons Tuisonderwys reis oplewer?

Groot verskoning vir die min inskrywings die laaste paar maande.

Vir diegene wat nuut is met die avontuur en ook by my blog, loer gerus rond. Daar is baie oulike bronne wat ek alreeds in Afrikaans oor vertaal het en ek hoop om nog nuwes te plaas.

My raad aan die nuwelinge: vat elke dag soos dit kom. Los die klokkie en horlosie, geniet elke dag en maak die beste van elke dag. Al kon jul nie in 'n dag vermag het soos wat jy dit beplan het nie, elke bietjie tel op die einde.

Aan almal wat Tuisonderwys, wat is julle doelwitte vir 2018? Vir my persoonlik met die laaste paar jaar wat my kinders oor het, beoog ek om werklik dit hul beste jare te maak. Om meer gefokus te wees en dat hul eendag kan terug kyk en vertel hoe ongelooflik die reis was.

Deel gerus jul drome en doelwitte.

Groete

Maryna

Tuesday 24 October 2017

Oop brief vir die veterane

Dit is ongelooflik om te sien hoeveel mense daar nou is wat Tuisonderwys of oorweeg om te Tuisonderwys vandat ons begin het.

Net soos ons begin het, het enige ouer baie vrae en navorsing wat hulle doen. Met die vinnige lewe waarin ons vandag lewe is dit soveel makliker om vinnig antwoorde op Facebook groepe te ontvang van soveel verskillende ouers.

Daar is nou al baie veteraan moeders. Diegene wat al meer as 7+ jaar hul kinders Tuisonderwys. Dit is gewoonlik hulle na wie nuwe ouers graag draai vir raad en advies.

Ek was onlangs in 'n situasie wat my vir die eerste keer so laat skaam het om myself 'n Tuisonderwys moeder te noem. 'n Dame wat navorsing doen oor Tuisonderwys, was so aangeval op 'n Facebook groep dat ek wonder of sy dit nou ooit eens gaan oorweeg. Hierdie was 'n plaaslike dorp groen, nie eens 'n Tuisonderwys groep nie.

In my poging om die dame te verwys na 'n instansie, word ek gebombadeer deur die ander veteraan moeder. Ek het die dame persoonlik probeer kontak en sy het my dood eenvoudig geblok. Die kersie op die koek, amper twee dae later kom daar iemand anders te voorskyn wat my uit my sokkies uit vloek. Dit alles net omdat ek iemand verwys het na 'n plek.

Ek Tuisonderwys nou amper 9 jaar. In my lewe het ek my nog nooit so geskaam om eens deel te wees van die Tuisonderwys beweging nie. Hierdie vrou wat haar soos 'n vark op sosiale media gedra het, staan as 'n bekende onder die Tuisonderwys gemeenskap in ons dorp. Dieselfde dame wat my en ander aanval en van dinge beskuldig doen inteendeel die ding wat sy uitwys as onwettig.

Dit is die plig van 'n veteraan of enige ander Tuisonderwys moeder om op 'n mooi manier ander te help. Vandag is daar so baie opsies ens dat dit maklik oorweldigend kan wees vir enige persoon wat Tuisonderwys oorweeg.

Wie gee ons veterane die reg om ander 'af te skiet' en soos 'n buffel op te tree. As jy iemand is wat geirriteerd raak oor dalk dieselfde vrae oor en oor. Moet eenvoudig nie op plasings kommentaar lewer nie, lees verby en gaan aan met jou lewe.

Tuisonderwys kry reeds baie aanvalle, ons het werklik nie nog nodig dat ouers in opstanding met mekaar raak nie. 

Elke persoon het hul eie siening en jy kan nie jou siening en wat vir jou werk soos 'n formule ook op ander afdruk nie. Indien jy ander wil help en raad gee, doen dit op 'n mooi manier. 

Ons, of aldan ek is daar om mense by te staan en te help. Met graagte en met liefde ;) Vra jouself dit, waar pas jy in? Hoe sien die gemeenskap jou? Jy mag dalk dink jy beweeg onder die rader. Maar sodra jy 'n lelike woord op sosiale media plaas, word jy gebrandmerk en 'n beeld word van jou geskep.

Wees die Tuisonderwys ouer op wie jou kinders kan trots wees.

Groete

Maryna

Wednesday 27 September 2017

Suid Afrika en Wêreld Kaart aflaai

Ek het jare terug die pragtige twee kaarte van Onnies Online van Huisgenoot gekry.

Jy kan die kaarte in hoë definisie formaat aflaai. Sien skakel onder elke foto. 

Die formaat kan op baie groot papier ook uitgedruk word sonder om kwaliteit te verloor. PostNet druk op groot velle. Jy kan dit ook laat lamineer sodat dit baie jare mooi bly en lank gebruik kan word.


Laai die Suid Afrika kaart HIER af.
 

Laai die Wêreld kaart HIER af.

Lekker leer.

Maryna

Wednesday 12 July 2017

Woorde met Woema Kursus

Tuisonderwys moeder en skryfster Marisa Haasbroek het vir ons nog 'n wonderlike Afrikaanse kursus saamgestel, Woorde met Woema.

Die mini-kurus is so pas geloods. Hier kan ons 'n insig kry van wat haar volledige kursus gaan bied. Ek het deur die mini-kursus gewerk en dit is absoluut puik. Nes die 15 Minuut Afrikaans kursus het Marisa alles ingesit om ons wat Tuisonderwys te help in Afrikaans. Dit neem nie baie tyd nie en dit is 'n prettige kursus.

Wat presies is Woorde met Woema? Dit is 'n Afrikaanse skryfkursus vir kinders (maar ma kan ook baie daaruit leer).  Hul neem 'n kort sin (wat deel uitmaak van 'n storie) en kikker dit 'n bietjie op in 'n unieke opwinende storielyn.

Kyk na die Woorde met Woema bekendstellingsvideo.


Die mini-kursus is GRATIS. Ja totaal gratis. Die volledige kurus is in werking en sal eersdaags te koop beskikbaar wees. Moet nie die een mis nie. 

Skryf HIER in by die gratis mini-kursus. 

Lekker leer.

Groete

Maryna

Monday 10 July 2017

Hou Net Op Sukkel - Youtube hulp

Ek het onlangs op 'n baie oulike Youtube kanaal afgekom Hou Net Op Sukkel.

Die kanaal is vir Graad 10 tot 12 leerlinge en het videos vir Wiskunde, Wetenskap, Chemie en Fisika.

Hierdie is een van daai moet volg kanale. Die verduidelikings is puik.Dit word aangebied op 'n manier waarvan jong mense sal hou en is nie afgewater of vervelig nie. Gaan loer gerus op Youtube na die kanaal en volg hul, daar is baie videos om van te kies. 

Kyk gerus hier na die inleidings video.


Laat weet gerus wat jul van die kanaal dink. 

Lekker leer.

Groete

Maryna